Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die drie Suid-Afrikaanse spanne wat steeds die Verenigde Rugby-kampioenskap se uitspeelrondes kan haal, sal alles in die stryd moet werp in die naweek se kragmetings. Die Stormers is tans tweede op die punteleer en seker van kwalifisering, maar ‘n oorwinning oor Cardiff in Wallis Vrydag sal hulle ‘n tuiskwarteindstryd laat beklink. Die Bulle is vierde en die Leeus vyfde, en oorwinnings in die laaste groepronde sal kwalifisering verseker. Die Bulle pak die Italiaanse span Benetton op Loftus terwyl die Leeus in Ierland teen Munster te staan kom.
# Gholf: Yurav Premlall van Suid-Afrika het sy eerste DP World-toertitel verower toe hy die Kataloniese Kampioenskap in Barcelona, Spanje, met 14 houe gewen het. Hy het op ‘n reuse-28 onder baansyfer geëindig. Sy landgenoot Shaun Norris was tweede. Nog ‘n Suid-Afrikaner, JC Ritchie, het die derde plek gedeel met die Spanjaard Alejandro del Rey en die Fransman Oihan Guillamoundeguy. Premlall sê hy het hard gewerk vir die oorwinning:
# Krieket: Mumbai Indians, wat die Indiese Premierliga al vyf keer gewen het, en Lucknow Super Giants is uitgeskakel. Mumbai het met twee paaltjies teen die heersende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, verloor en na die negende plek afgeskuif. Nog ‘n vyfmalige kampioen, Chennai Super Kings, het Lucknow met vyf paaltjies geklop, wat hulle onderaan die punteleer laat. RCB het na die boonste plek opgeskuif met 14 punte, terwyl Chennai vyfde is met 12 punte. Die boonste vier spanne sal vir die uitspeelrondes kwalifiseer.
Nog krieketnuus: Daar is twyfel oor die Engelse snelbouler Gus Atkinson se fiksheid vir volgende maand se tuistoetsreeks teen Nieu-Seeland nadat hy harsingskudding opgedoen het tydens ‘n graafskapswedstryd vir Surrey. Twee opslagballe van Nottinghamshire se internasionale bouler, Josh Tongue, het hom op sy kopskerm getref. Hy is later vervang en harsingskudding is gediagnoseer. Die eerste van drie toetse teen Nieu-Seeland begin die vierde Junie op Lord’s in Londen en word gevolg deur wedstryde op die Oval in Londen en Trent Bridge in Nottingham.
# En sokker: Arsenal het West Ham 1-nul geklop om nader te beweeg aan hul eerste Premierliga-titel in 22 jaar. Leandro Trossard het die Gunners in die 83ste minuut laat voorloop, waarna West Ham se doel in bykomende tyd omgekeer is na ‘n omstrede beslissing deur die video-skeidsregter. Mikel Arteta se span is nou vyf punte voor Manchester City, wat een wedstryd meer het om te speel. Arteta het die skeidsregters geloof:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….