Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Ierse reuse Leinster en Ulster se kwalifisering vir die eindstryd van die Kampioenebeker kan as positief beskou word vir die Stormers en die Leeus se kanse om die Verenigde Rugbykampioenskap se uitspeelwedstryde te haal. Leinster is tans vierde op die VRK-punteleer en Munster vyfde, en albei spanne moet nou vir twee kompetisies voorberei. Die Leeus speel Saterdag teen Leinster en volgende naweek teen Munster, terwyl die Stormers hierdie Vrydag teen Munster speel, ook in Ierland. Die Stormers is tans bo-aan die punteleer en die Leeus derde.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, gaan probeer om sy rekord te verbeter deur ‘n sesde agtereenvolgende ATP Meesters-eenduisend-kroon op die Italiaanse Ope te buit. Hy begin sy veldtog teen Alex Michelsen of Sebastian Ofner. Sinner is in dieselfde loting as Felix Auger-Aliassime, Ben Shelton en Daniil Medvedev. In die onderste deel van die loting keer die sesmalige kampioen, Novak Djokovic, na meer as ses weke terug en sy eerste wedstryd is teen Marton Fucsovics of ʼn kwalifiseerder. Lorenzo Musetti en Casper Ruud is ook in Djokovic se groep.
# Krieket: Mumbai Indians het sy skrale kans lewend gehou om die Indiese Premierliga se uitspeelrondes te haal met ʼn oorwinning met ses paaltjies oor Lucknow Super Giants. Nicholas Pooran het 63 lopies van slegs 21 balle behaal en Super Giants het 228 vir vyf bereik. Rohit Sharma het daarna geskitter met 84 van 44 balle terwyl Ryan Rickelton 83 bygedra het. Mumbai Indians het hul hoogste suksesvolle lopie-teiken in IPL-geskiedenis bereik met agt balle oor. Mumbai kort nou ses punte om die topvier te haal met vier wedstryde wat oorbly.
# Sokker: Arsenal het weer ‘n kans in die wedloop om die Premierliga-titel nadat Manchester City en Everton gisteraand 3-elk gelykop gespeel het. Pep Guardiola se span was rustyd 1-0 voor ná ‘n doel deur Jerémy Doku. Everton het in die tweede helfte teruggeveg met twee doele deur die plaasvervanger Thierno Barry en een deur Jake O’Brien. Erling Haaland het verdoel voor Doku in die 97ste minuut die gelykmaker aangeteken het. Arsenal gaan nou poog om hul laaste drie wedstryde te wen en hul eerste titel in 22 jaar te verower.
# En gholf: Die hoof van die Amerikaanse Gholfvereniging, Mike Whan, sê dis hoogs onwaarskynlik dat die 15-malige major-kampioen, Tiger Woods, aan die Amerikaanse Ope en Amerikaanse Senior Ope sal deelneem. Die 50-jarige Woods word volgens berigte in Switserland behandel nadat hy van dronkbestuur aangekla is ná ʼn motorbotsing in Florida in Maart. Whan sê wat Woods tans deurgaan, is baie groter as die spel. Die Amerikaanse Ope vind in Junie op die Shinnecock Hills-gholfklub in Southampton, New York, plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….