Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die dubbele Olimpiese kampioen, Caster Semenya, het die Internasionale Olimpiese Komitee se herinstelling van geslags-bevestigingstoetse vir 2028 se Spele in Los Angeles gekritiseer as ‘n gebrek aan respek vir vroue. Verlede week se besluit kom neer op ‘n verbod op transgender-atlete en ‘n groot aantal interseks-atlete om aan vrouesport deel te neem. Semenya het aan Sky News gesê dit is teleurstellend dat vroue moet bewys dat hulle waardig is om aan sport deel te neem:
# Rugby: Die Springbokvroue het vyfde geëindig in die wêreldsewestoernooi in Sao Paolo, Brasilië. Suid-Afrika het Saterdag 19-5 teen Spanje verloor en daarna 14-5 teen Kenia, maar toe die gasvroue 26-12 geklop. ‘n Uitgedunde Bokspan met vyf beseerde spelers het gister 19-5 teen Argentinië verloor en hul laaste wedstryd teen China 14-10 gewen. Die Bok-vroue het reeds gekwalifiseer vir die Sewes-wêreldkampioenskap wat volgende maand in Hongkong begin.
# Gholf: Martin Vorster van Suid-Afrika het die DNi-toerkampioenskap op die De Zalze-gholfklub in die Wes-Kaap gewen vir sy eerste Sonskyntoer-titel. Hy het klaargemaak met 66 om op 21 onder baansyfer te wen. Sy landgenote, Altin van der Merwe en Jaco Prinsloo was saam tweede op 19 onder in die laaste toernooi van die Courier Guy-uitspeelronde om die Sonskyntoer-seisoen af te sluit. Vorster sê die oorwinning was baie spesiaal:
# Krieket: Mumbai Indians het hul Indiese Premierliga-veldtog afgeskop met ‘n oorwinning met ses paaltjies oor Kolkata Knight Riders. Kaptein Ajinkya Rahane het 67 gemoker en bygedra tot die Knight Riders se 220 vir vier in hul 20 boulbeurte. Shardul Thakur het drie paaltjies platgetrek. Rohit Sharma en Ryan Rickelton het daarna ʼn skitterende aanvangsvennootskap van 148 lopies bygedra en Mumbai Indians het maklik gewen met vyf balle oor. Hulle het ook die eerste keer in 14 jaar hul openingswedstryd gewen.
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die Miami Ope gewen en die eerste keer in sy loopbaan ʼn Sonskyn-dubbel behaal deur in dieselfde jaar op Indian Wells en in Miami te wen. Die Italianer het die Tsjeg Jiri Lehecka verslaan en die eerste man geword wat ʼn Sonskyn-dubbel voltooi sedert Roger Federer in 2017, en die agste man ooit wat die prestasie behaal. Sinner sê dit beteken vir hom baie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….