Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: FIFA se vise-president, Victor Montagliani, sê wydverspreide politieke- en veiligheids-bekommernisse rondom die komende Wêreldbeker is niks nuuts nie en sal vergete wees sodra die eerste bal geskop is. Die sokkertoernooi word in die Verenigde State, Mexiko en Kanada aangebied, maar die opbou daarvan word bederf deur die oorlog in die Midde-Ooste, insluitend president Donald Trump se veldtog teen immigrasie. Montagliani het tydens ‘n Business of Soccer-konferensie in Atlanta gesê die realiteit is daar was nog altyd geo-politieke kwessies voor ‘n Wêreldbeker.
En in ander sokkernuus, die Hof van Arbitrasie vir Sport het Senegal se appèl nadat hulle die Afconbeker-titel ontneem is, erken en sê hulle sal so gou as moontlik daaroor beslis. Senegal het Marokko in Januarie met 1-0 in die eindronde verslaan. Die Konfederasie van Afrika-sokker het die titel twee maande ná die eindstryd aan Marokko toegeken en sê Senegal het die wedstryd verbeur omdat die spelers uit protes van die veld gestap het. Dit het gebeur nadat Marokko ‘n betwisbare strafdoel in ekstra tyd gekry het. Die hof sê ʼn bemiddelingspaneel sal aangestel word om die saak te na te gaan.
# Tennis: Wêreldnommer-een Aryna Sabalenka kom in ‘n halfeindstryd teen Elena Rybakina in die Miami Open te staan. Die Belarussiese tennisster het die ongekeurde Amerikaner Hailey Baptiste geklop om die laaste vier vir die tweede agtereenvolgende jaar te haal. Rybakina van Kazakstan het die Amerikaner Jessica Pegula geklop. In die mansafdeling het die Fransman Arthur Fils die Amerikaner Tommy Paul gestuit om sy eerste halfeindstryd te haal. Hy sal teen die Tsjeg Jiri Lehecka speel, wat die ongekeurde Spanjaard Martin Landaluce geklop het.
# Motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, het die energiebestuursreëls om die naweek by die Japannese Grand Prix te kwalifiseer, effens aangepas. Die krageenheid-vervaardigers, Mercedes, Ferrari, Red Bull, Ford, Audi en Honda, het eenparig ingestem om die maksimum toegelate energie-herlading per rondte om by Suzuka te kwalifiseer, van nege tot agt megajoules te verlaag. Dit beteken renjaers sal minder energie per rondte gebruik om die battery te herlaai. Die FIA sê dit sal verseker dat die beplande balans tussen energie-ontplooiing en bestuurderprestasie volgehou word.
# En, atletiek: Organiseerders van die Londen-marathon oorweeg dit om volgende jaar die geleentheid oor twee dae in plaas van een aan te bied. Dit volg nadat ‘n rekord van 1,1-miljoen mense vanjaar aansoek gedoen het om deel te neem, ‘n toename van 36-persent teenoor die vorige jaar. Die organiseerders sê die geleentheid oor twee dae sal toelaat dat die elite mans- en vrouewedlope op aparte dae plaasvind. Dit sal ook ‘n wêreldrekord van 100-duisend amateuratlete toelaat om oor die naweek deel te neem. Geen formele goedkeuring is nog verleen nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….