Nuus 13:00
BULLETIN 26 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stig ‘n komitee om die moontlikheid van ‘n brandstofheffingverlaging te ondersoek
# Minister Manamela gee die NSFAS-raad opdrag om alle geakkrediteerde privaat verblyfverskaffers te oudit
# En sokker: Die vise-president van FIFA sê kommer oor die Wêreldbeker is oordrewe
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die kabinet het ‘n komitee aangestel om ondersoek in te stel oor of die brandstofheffing verlaag moet word om die gevare rondom brandstofpryse te verlig. Dit volg nadat die Amerikaans-Israeliese oorlog teen Iran ‘n skerp styging in brandstofpryse veroorsaak het. Die Sentrale Energiefonds sê Suid-Afrikaners sal vanaf 1 April te kampe hê met ‘n petrolprysverhoging van vyf-rand-41-sent per liter en diesel styg met met agt-rand-84 sent per liter. Godongwana sê dit is vir hom om te besluit oor oor brandstofheffings.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se raad beveel om alle geakkrediteerde verskaffers van privaat verblyf te oudit en almal wat die kontrakstandaarde oortree, te skors. Dit volg ná ‘n verslag van die Ouditeur-generaal wat onthul het toestande by sommige verblyfplekke is onveilig, onwaardig en ʼn regstreekse verbreking van die kontrakte wat diensverskaffers met die skema onderteken het. Die ministerie se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê sommige studente word naby kroeë gehuisves:
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane en UDM-leier, Bantu Holomisa, sê die brand wat die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha, Oos-Kaap, verwoes het, dui op verwaarlosing van staatsgeriewe. Daar was verskeie departemente in die gebou van 11 verdiepings, insluitend gesondheid, onderwys, maatskaplike ontwikkeling en vervoer. Holomisa sê die regering moet verseker dat noodsaaklike dienste wat voorheen daar verskaf is, sonder ontwrigting voortgaan en eis ‘n volledige ondersoek na die oorsaak van die brand sowel as aanspreeklikheid:
# Die Australiese regering gaan Iraniërs met toeristevisums tydelik keer om die land binne te kom en sê hulle tree in nasionale belang op. Dit volg te midde van vinnig veranderende toestande wêreldwyd. Die stap beteken meer as sewe-duisend mense wat reeds Iranse besoekersvisums het, kan nie die land binnekom nie. Die aankomsbeheerbepaling bly vir ses maande van krag. Die minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, sê sekere Iraniërs sal steeds Australië toe kan reis, insluitend diegene met langertermynvisums of mense met kinders of gades in die land:
# Sokker: FIFA se vise-president, Victor Montagliani, sê wydverspreide politieke- en veiligheids-bekommernisse rondom die komende Wêreldbeker is niks nuuts nie en sal vergete wees sodra die eerste bal geskop is. Die sokkertoernooi word in die Verenigde State, Mexiko en Kanada aangebied, maar die opbou daarvan word bederf deur die oorlog in die Midde-Ooste, insluitend president Donald Trump se veldtog teen immigrasie. Montagliani het tydens ‘n Business of Soccer-konferensie in Atlanta gesê die realiteit is daar was nog altyd geo-politieke kwessies voor ‘n Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….