Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Nieu-Seelandse Vrouespan het Suid-Afrika met 92 lopies geklop in die vyfde en laaste T20 in Christchurch en daarmee die reeks met 4-1 beklink. Kaptein Amelia Kerr se meesterlike 105 lopies van 55 balle het bygedra tot die Wit Varings se uiteindelike totaal van 194 vir ses in hul 20 boulbeurte. Die Protea-vrouespan is in hulle beurt beperk tot 102 vir nege. Annerie Dercksen met 23 lopies was die enigste kolwer wat meer as 20 kon aanteken. Die twee spanne vestig nou hulle aandag op die reeks van drie eendagwedstryde, wat Sondag in Christchurch begin.
# Sokker: Liverpool se voorspeler Mohamed Salah het aangekondig dat hy aan die einde van die seisoen die klub sal verlaat, wat ‘n merkwaardige hoofstuk van nege jaar beëindig. Die 33-jarige internasionale speler van Egipte se nuwe tweejaarkontrak gaan met ‘n jaar verkort word nadat hy dit reeds in April onderteken het. Salah het in Junie 2017 van Roma by Liverpool aangesluit en sal die klub verlaat as die doelskieter met die derde meeste doele, wat ook gehelp het dat hulle die Premierliga, Kampioeneliga, FA-beker én die Carabao-beker wen. Hy sê Liverpool sal altyd sy tuiste wees:
# Gholf: Die vyftienmalige major kampioen, Tiger Woods, sê hy is nog onseker oor sy deelname aan die Meesterstoernooi op Augusta. Die 50-jarige het ‘n jaar lank herstel ná ‘n Achilles-besering en het in Oktober verlede jaar ‘n sewende rugoperasie ondergaan. Die vyfmalige Meesterskampioen het nog nie weer mededingende gholf op die PGA-toer gespeel sedert hy in Julie 2024 nie na volgende ronde kon deurdring nie. Woods sê hy sal aanhou oefen en kyk hoe dit gaan:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, is deur na die kwarteindronde by die Miami Ope nadat hy die ongekeurde Amerikaner Alex Michelsen met 7-5, 7-6 geklop het. Die Italianer kom nou teen nog ‘n Amerikaner, Frances Tiafoe, te staan wat Terence Atmane van Frankryk verslaan het. Die Spaanse kwalifiseerder, Martin Landaluce, het met die 32ste gekeurde Amerikaner, Sebastian Korda, afgereken. In die vroueafdeling het die Tsjeg, Karolina Muchova, na die halfeindronde deurgedring nadat sy Victoria Mboko van Kanada geklop het.
En laastens, nog tennisnuus is die tweemalige Grand Slam-kampioen, Coco Gauff, is vir die eerste keer ook deur na die halfeindstryd van die Miami-Ope. Die Amerikaner het Belinda Bencic van Switserland in drie stelle geklop en kom nou teen die 13de gekeurde Tsjeg, Karolina Muchova te staan. In die mansafdeling sit die 2018-finalis, Alexander Zverev van Duitsland sy veldtog voort vir ‘n eerste titel in Miami nadat hy Quentin Halys van Frankryk in twee stelle geklop het. Hy kom nou teen die Argentyn Francisco Cerundolo te staan wat deurgedring het na sy vierde kwarteindronde toe hy die Fransman Ugo Humbert uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….