Nuus 12:00
BULLETIN 25 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlementêre Ad Hoc-komitee bespreek die pad vorentoe ná die voltooiing van die Mkhwanazi-ondersoek
# COPE verwelkom die inhegtenisneming van 12 polisiebeamptes in ‘n 360-miljoen-rand tenderskandaal
# En gholf: Tiger Woods is nog onseker oor sy deelname aan die Meesterstoernooi
# Die Parlement se Ad Hoc-komitee wat bewerings van polisie-korrupsie deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi ondersoek, vergader vandag om die pad vorentoe te bespreek. Die sitting fokus op administratiewe voorbereidings en tydlyne vir komende verrigtinge. Die komitee, wat in Julie 2025 gestig is, ondersoek bewerings van misdaadsindikate in staatsinstellings, beweerde inmenging by ondersoeke, korrupsie en die doeltreffendheid van die polisie se toesigmeganismes, te midde van kommer oor staatskaping in wetstoepassingsagentskappe.
# Die Congress of the People verwelkom die inhegtenisneming van 12 senior Suid-Afrikaanse Polisiediens-beamptes oor hul beweerde rol in ‘n Medicare24-tenderskandaal van 360-miljoen-rand, wat verbind word met die sakeman Vusimuzi Matlala. Pakes Dikgetsi van Cope sê die beskuldigdes het na wat berig word omkoopgeld ontvang, insluitend luukse voertuie en ander voordele. Dikgetsi veroordeel die openbare vertrouensbreuk en vra die nasionale kommissaris om alle beamptes wat betrek word sonder betaling te skors en korrupsie in die SAPD uit te roei:
# Die Appèlhof het die Padongelukkefonds beveel om binne sewe dae die Sunshine-hospitaal meer as 92-miljoen-rand te betaal. Die privaat hospitaal in Benoni het in 2003, op versoek van die fonds, begin om slagoffers van motorvoertuigongelukke te behandel. Die Sunshine-hospitaal het verlede Mei permanent gesluit ná ‘n vyf jaar lange regsgeding oor die fonds se volgehoue wanbetaling. Die hof het die fonds ook gelas om ‘n bygewerkte uitstaande eiselys te verskaf, wat fakture is wat die fonds reeds geoudit en goedgekeur het.
# Die Duitse president Frank-Walter Steinmeier en die minister van Buitelandse Sake, Johann Wadephul, kritiseer die VSA-Israeliese aanvalle op Iran en sê dit is vermybaar en onnodig. Steinmeier het in Berlyn ter viering van die 75ste herdenking van die na-oorlogse hervorming van die Duitse Ministerie van Buitelandse Sake in 1951, gesê die oorlog skend internasionale reg. Wadephul sê die VSA het ‘n belangrike rol gespeel in die hereniging van Duitsland na die Tweede Wêreldoorlog, maar hy het gewaarsku teen nuwe uitdagings te midde van president Donald Trump se toenemend wisselvallige buitelandse beleid.
# Gholf: Die vyftienmalige major kampioen, Tiger Woods, sê hy is nog onseker oor sy deelname aan die Meesterstoernooi op Augusta. Die 50-jarige het ‘n jaar lank herstel ná ‘n Achilles-besering en het in Oktober verlede jaar ‘n sewende rugoperasie ondergaan. Die vyfmalige Meesterskampioen het nog nie weer mededingende gholf op die PGA-toer gespeel sedert hy in Julie 2024 nie na die volgende ronde kon deurdring nie. Woods sê hy sal aanhou oefen en kyk hoe dit gaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-564-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….