Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kbegin met heelwat krieketnuus: Quinton de Kock het geskitter met die kolf toe Suid-Afrika die Wes-Indiese Eilande in Centurion met sewe paaltjies verpletter het. Die Proteas is 2-0 voor in die T20-reeks van drie wedstryde. Shimron Hetmyer het 75 bygedra en die besoekers tot 221 vir vier geneem. De Kock het daarna in sy eerste tuis-T20-wedstryd in byna drie jaar 115 aangeteken en ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 162 met Ryan Rickelton gedeel. Die Proteas het gewen met 15 balle oor. Die derde en laaste wedstryd is môre op die Wanderers.
Die voormalige Suid-Afrikaanse onder-19-vrouekaptein, Kayla Reyneke, sal na verwagting haar buiging vir die senior span maak nadat sy ingesluit is in die groep vir die T20-tuisreeks van drie wedstryde teen Pakistan. Ander spelers in die groep sluit in kaptein Laura Wolvaardt, Chloé Tryon, Marizanne Kapp, Dané van Niekerk, Masabata Klaas en Ayabonga Khaka. Die top-orde kolwers Lara Goodall en Faye Tunnicliffe is deel van die eendaggroep vir die reeks wat op die T20’s volg. Die eerste T20 vind op 10 Februarie in Potchefstroom plaas.
Intussen sal die veelsydige Sophie Molineux die leisels oorneem as kaptein van Australië se vrouespan wanneer Alyssa Healy uittree. Die 28-jarige Molineux sal die span in volgende maand se T20-tuisreeks teen Indië aanvoer, en sal kaptein word van al drie formate tydens die toets- en eendagtoer in die Karibiese Eilande in Maart. Sy het haar buiging vir Australië in 2018 gemaak en sedertdien drie toetse, 11 eendagwedstryde en 38 T20’s gespeel. Molineux speel ook vir Melbourne Renegades in die Big Bash, en vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga.
# Netbal: Suid-Afrika het Engeland in Johannesburg 52-48 geklop in die eerste van drie wedstryde in die reeks. Die Rose het vroeg 6-3 voorgeloop, maar die Proteas het sokkies opgetrek en die gasvroue was rustyd 29-25 voor. Engeland het teruggeveg en laat in die wedstryd was hulle 39-38 voor. Suid-Afrika het egter munt geslaan uit die besoekers se ongedwonge foute en die oorwinning beklink. Die twee spanne meet môre kragte in die tweede wedstryd.
# En laastens, tennis: Tennis Australië se uitvoerende hoof, Craig Tiley, sê daar is ’n fyn balans tussen spelers se bevordering en privaatheid. Hy het reageer op vrouespelers se klagtes oor ‘n gebrek aan privaatheid nadat die Amerikaner Coco Gauff se uitbarsting in die spelersgebied op televisie gewys is. Sy het haar raket stukkend geslaan nadat sy in die kwarteindronde verloor het, terwyl sy gedink het dit was ‘n privaat oomblik. Tiley sê hoewel TV-kameras in die spelersgimnasium opgestel is, is ander gebiede soos die kleedkamers, afrigterskamer en herstelkamers buite perke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….