Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika en Nieu-Seeland sal die laaste toets van hul reeks in September op die M&T Bank-stadion in Baltimore, Amerika, speel. Twee van die eerste drie toetse sal in Johannesburg plaasvind, en die ander een in Kaapstad. Die Springbokke het in 2018 laas in Amerika gespeel, in Washington teen Wallis, terwyl die All Blacks verlede jaar in Chicago teen Ierland gespeel het. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê een van hulle hoof-doelwitte is om die Bokke na nuwe gehore en gebiede te neem.
Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu bly intussen opspraak maak in Europese rugby en het ‘n plek verseker as een van die tien benoemings vir 2026 se Kampioenebeker-Speler van die Jaar. Die 23-jarige Stormers-speler is die enigste Suid-Afrikaner wat benoem is. Hy het in die groepfases van die toernooi deurentyd aandag getrek. Sy leierskap op die veld en strategiese spel het ook gehelp om die Stormers se groepsveldtog te bepaal. Feinberg-Mngomezulu is ook op die kortlys vir die SA Rugbyspeler van die Jaar- en Jong Speler van die Jaar-toekennings.
# Krieket: Paarl Royals kry vanaand kans om die SA20 se eindstryd te haal nadat hulle Joburg Super Kings met 36 lopies verslaan het in hulle uitspeelwedstryd in Centurion. Lhuan-dré Pretorius het 51 aangeteken en Royals het 210 vir vyf gehaal. Hardus Viljoen het daarna drie paaltjies platgetrek en Super Kings is tot 174 vir agt beperk. Royals en Sunrisers Eastern Cape spook vanaand sake uit op die Wanderers, en die wenner pak Pretoria Capitals in Sondag se eindstryd in Kaapstad.
Intussen het die Proteas het ‘n groot terugslag beleef toe Tony de Zorzi en Donovan Ferreira weens beserings aan die T20-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka moes onttrek. De Zorzi het nie volgens verwagting goed herstel nadat hy sy regter-dyspier geskeur het nie. Ferreira het sy linker-sleutelbeen gekraak terwyl hy vir Joburg Super Kings in die SA20 gespeel het. Hulle word deur Ryan Rickelton en Tristan Stubbs vervang. Suid-Afrika skop sy Wêreldbeker-veldtog op 9 Februarie af teen Kanada.
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het Corentin Moutet van Frankryk verslaan om na die Australiese Ope se vierde ronde deur te dring. Die Spanjaard en die Sweed Björn Borg hou nou die rekord vir die beste Grand Slam-prestasie na 100 wedstryde. Daniil Medvedev van Rusland het met die Hongaar Fabian Marozsan afgereken. In die vroue-afdeling het Aryna Sabalenka van Belarus die Oostenryker Anastasia Potapova verslaan. Die Kanadese tiener Victoria Mboko het die Deen Clara Tauson geklop en die eerste keer deurgedring na ʼn Grand Slam-toernooi se tweede week.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….