Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na krieketnuus: Pretoria Capitals is deur na Sondag se eindstryd van die SA20 nadat hulle Sunrisers Eastern Cape met sewe paaltjies geklop het in die eerste kwalifiseerder op Kingsmead in Durban. Bryce Parsons het drie paaltjies platgetrek en Sunrisers is tot 170 vir sewe beperk. Dewald Brevis het daarna ‘n onoorwonne 75 behaal en Parsons 60 om Capitals ʼn oorwinning te besorg met nege balle oor. Sunrisers kan steeds die eindstryd haal wanneer hulle môre die wenners van vandag se uitskakelstryd tussen Paarl Royals en Joburg Super Kings pak.
Nog krieketnuus: Indië se vrouespan besoek Suid-Afrika in April vir ‘n reeks van vyf T20s teen die Proteas, wat beskou word as voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin. Die wedstryde word in Durban, Johannesburg en Benoni gespeel. Dit sal slegs die derde T20-reeks tussen die twee lande wees en die eerste sedert 2023. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne en hoëprestasie, Enoch Nkwe, sê die toer is net wat die Proteas nodig het voor die Wêreldbeker.
# Rugby: Die Springbok-vroue sal die Amerikaanse Eagles in Julie in Johannesburg en Pretoria verwelkom vir ʼn geskiedkundige eerste toetsreeks van twee wedstryde. Dit is ook die begin van die mans-Springbokke se Nasieskampioenskap-veldtog. Die Bok-vroue sal in September ook gasvrou speel vir Nieu-Seeland se Black Ferns. Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê hulle doel is om met so veel as moontlik van die top-tien spanne kragte te meet in die nuwe Wêreldbeker-siklus.
Intussen gaan agt stadions volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië aanbied. Die Olimpiese Stadion in Sydney sal die middelpunt van die toernooi wees. Die stadion, met 80-duisend sitplekke, sal die eindstryd op 13 November aanbied, sowel as albei halfeindstryde, die uitspeelstryd om derde plek, twee kwarteindstryde en twee groepswedstryde. Die sokkerstadion in Sydney sal ook ‘n sleutelrol speel, met drie groepswedstryde en twee wedstryde in die ronde van 16. Die toernooi skop op 1 Oktober in Perth af.
# En tennis: Die voormalige Britse wonderkind, Emma Raducanu, beplan om haar spel te her-valueer nadat sy in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel is. Sy het in skoon stelle teen die plaaslike speler Anastasia Potapova verloor. Raducanu het in 2021 opslae gemaak toe sy as ’n tiener-kwalifiseerder die Amerikaanse Ope gewen het, maar kon sedertdien nie weer ’n toernooi wen nie. Sy het van tiende op die wêreldranglys na 29ste gedaal, gepootjie deur verskeie langtermynbeserings. Raducanu erken sy speel tans nie soos sy graag wil nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….