Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Die Suid-Afrikaner Henk Lategan is steeds in die algehele voorste posisie in die Dakar-tydren in Saoedi-Arabië, ondanks navigasieprobleme tydens die vyfde skof wat veroorsaak het dat hy byna 13 minute verloor het. Hy kry egter sterk teenstand van die vier Ford Raptor-bestuurders, Mattias Ekstrom, Nani Roma, Carlos Sainz en die indrukwekkende jong Amerikaner Mitch Guthrie. Die laaste spesiale skof van 300 kilometer in die sandduine vind vandag plaas.
# Rugby: Die Kampioenebeker-kompetisie hervat die naweek, met die Bulle, die Haaie en die Stormers wat Suid-Afrika se belange verteenwoordig. Die Bulle speel môremiddag tuis op Loftus teen Bristol Bears en die Haaie en die Stormers speel in Europa. Die Haaie pak Sale Sharks môreaand in Engeland en Sondag kom die Stormers en Harlequins in Londen teen mekaar te staan. Die Stormers is tans boaan Groep 3 en die Bulle en die Haaie vyfde in onderskeidelik Groep 4 en een.
# Krieket: Die SA20-kragmeting tussen Joburg Super Kings en Paarl Royals is weens gure weer afgelas na die eerste kolfbeurt op die Wanderers. Faf du Plessis en James Vince het ‘n aanvangsvennootskap van 73 aangeteken en die tuisspan het 187 vir ses behaal. Die besoekers kon weens donderweer en reën egter nie hulle beurt begin nie en die wedstryd is afgelas. Albei spanne het twee punte gekry. Super Kings het nou 17 punte en Royals bly derde met 15 punte.
# Tennis: Die voormalige kampioen, Stan Wawrinka, Jordan Thompson en Chris O’Connell is die laaste drie promotorskeuses vir die mansenkelspel se hooftrekking vir die Australiese Ope. Wawrinka het die titel in 2014 op Melbourne Park gewen en in 2015 en 2017 die eindstryd gehaal. In 2020 het hy tot die kwarteindronde deurgedring. Dis vanjaar die Switserse ster se laaste seisoen op toer. Thompson en O’Connell se trekking beteken daar is 18 Australiërs wat gaan deelneem aan die mans en vroue se hoof-enkelspeltrekkings.
En China se Olimpiese kampioen, Zheng Qinwen, het haar weens fiksheid aan die Australiese Ope onttrek. Sy het verlede jaar ‘n elmboogoperasie ondergaan. Die besering het haar sedert Wimbledon op die kantlyn gehou en sy het eers in September teruggekeer toe sy in die derde ronde van die Chinese Ope onttrek het. Zheng, wat in die eindstryd van 2024 se Australiese Ope teen die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, verloor het, sê om in ‘n Grand Slam te speel, vereis ‘n fiksheidsvlak wat sy nog nie bereik het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….