Nuus 13:00
BULLETIN 9 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Activists and Citizens Forum wil hê Nhlanhla Mkhwanazi moet die nasionale polisiekommissaris word
# ActionSA kritiseer die regering oor sy versuim om parlementêre vrae te beantwoord
# En tennis: Die laaste drie promotorskeuses vir die Australiese Ope word aangekondig
# Activists and Citizens Forum vra dat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, as nasionale polisiekommissaris aangestel word. Dit volg nadat die provinsie se premier, Thami Ntuli, hom vir ‘n tweede termyn ondersteun het. Mkhwanazi het verlede jaar beweerde wydverspreide korrupsie en politieke inmenging binne die polisie en die strafregstelsel ontbloot. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê Mkhwanazi is ‘n ware etiese leier:
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het ‘n basiese toets in demokratiese regering gedruip, naamlik verantwoordbaarheid teenoor die Parlement. Vier-en-sestig parlementêre vrae het die afgelope jaar onbeantwoord gebly en verval. Die voorste oortreders sluit in ministers Dean Macpherson, Solly Malatsi en Maropene Ramokgopa. Lerato Ngobeni van ActionSA sê in die laaste weke van verlede jaar het departemente op die nippertjie honderde antwoorde ingedien in ‘n oppervlakkige vertoon van nakoming:
# Chinese en Iranse oorlogskepe wat vasgemeer is in die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad begin vandag met weeklange oefeninge met Suid-Afrika. Die oefeninge, wat Rusland na verwagting ook sal betrek, vorm deel van die BRICS Plus-samewerking en fokus op maritieme sekerheid en skeepsveiligheid. Die gevaar bestaan dat die oefeninge bande met Amerika kan belemmer, ná kritiek oor Suid-Afrika se betrekkinge met Rusland en sy buitelandse beleidsposisies. Die DA het intussen die regering gekritiseer en eis deursigtigheid oor koste, bevelstrukture en diplomatieke uitwerking.
# Duitsland se president, Frank-Walter Steinmeier, het Amerika se buitelandse beleid onder president Donald Trump sterk gekritiseer en gesê hy vernietig die wêreldorde. ‘n Meningspeiling toon dat 76-persent van Duitsers voel Amerika is nie ‘n bondgenoot om op staat te maak nie. Daarenteen het ongeveer ’n driekwart gevoel dat hulle op Frankryk en Brittanje kan staatmaak. Steinmeier sê die wêreldorde moet nie toegelaat word om te disintegreer in ‘n rowerbende nie, waar die gewetenloses vat wat hulle wil, en lande soos die eiendom van moondhede behandel word.
# Tennis: Die voormalige kampioen, Stan Wawrinka, Jordan Thompson en Chris O’Connell is die laaste drie promotorskeuses vir die mansenkelspel op die Australiese Ope. Wawrinka het die titel in 2014 op Melbourne Park gewen en in 2015 en 2017 die eindstryd gehaal. In 2020 het hy tot die kwarteindronde deurgedring. Dis vanjaar die Switserse ster se laaste seisoen op toer. Thompson en O’Connell se trekking beteken daar is 18 Australiërs wat gaan deelneem aan die mans en vroue-enkelspel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-155-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-476-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….