Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hy is teleurgesteld omdat hulle nie hul doelwit bereik het in die Afrikabekertoernooi nie. Suid-Afrika het gister in Marokko 2-1 teen die vyfmalige kampioen, Kameroen, verloor in die ronde van 16. Williams sê hulle het nie hul bes gedoen nie, en hulle moet dit regstel met die Wêreldbekertoernooi wat voorlê:
Intussen het die president van die Afrika-sokkerfederasie, Patrice Motsepe, het planne aangekondig om die prysgeld vir die Kampioeneliga en die Konfederasiebeker-toernooi te verhoog. Bedrae sal na die huidige Afrikabekertoernooi bevestig word. Motsepe het in Marokko teenoor SABC News beklemtoon CAF se skuld van 2,4-miljard rand is gedelg. Hy beklemtoon dat aansporings, ontwikkelingsprogramme en etiese bestuur sal verseker dat die spel op die vasteland sal groei en spelers en ondersteuners inspireer:
# Krieket: Joe Root het 160 aangeteken, sy 41ste toets-honderdtal, en Engeland gelei tot ‘n eerstebeurt-telling van 384 op die tweede dag van die vyfde en laaste toets om die As teen Australië in Sydney. Dis Root se tweede honderdtal in die reeks nadat hy ook ‘n vierdepaaltjie-vennootskap van 169-lopies saam met Harry Brook opgebou het. Root en die voormalige Australiese kaptein, Ricky Ponting, is nou gelykop derde op die lys van die meeste toets-honderdtalle. Australië het teen uitskeityd 166 vir twee gehad, ‘n agterstand van 218 lopies met agt paaltjies staande.
Nog krieketnuus: Bangladesj se Krieketraad het amptelik versoek dat die Internasionale Krieketraad al hul wedstryde vir die T20-Wêreldbekertoernooi skuif. Hulle sê die span gaan nie onder huidige omstandighede na Indië reis nie. Indië en Sri Lanka is mede-gashere van die toernooi, wat volgende maand begin. Politieke betrekkinge tussen Indië en Bangladesj het versuur nadat die destydse premier en bondgenoot van Nieu-Delhi, Sheikh Hasina, in 2024 tydens ‘n massa-opstand in Dhaka ontsetel is. Die raad sê hul versoek is belangrik om die veiligheid en welstand van spelers en spanbeamptes te verseker.
# En laastens, tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, het bande met die Vereniging vir Beroeptennisspelers verbreek. Hy het dié spelersvereniging in 2021 saam met die Kanadese speler, Vasek Pospisil, gestig. Die 38-jarige Serwiër sê hy het die besluit geneem na kommer oor deursigtigheid, bestuur en die manier waarop sy stem en beeld weergegee word. Die vereniging het in Maart verlede jaar regsgedinge teen die sportbeheerliggame ingestel en beskuldig die organisasies van ingewortelde misbruik, onmededingende praktyke en ʼn blatante miskenning van spelers se welstand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….