Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth se dissiplinêre verhoor sal na verwagting vandag plaasvind ná sy rooikaart teen Wallis. Hy is gestaf omdat hy kontak gemaak het die flank Alex Mann se oog in die doodsnikke van die wedstryd, wat Suid-Afrika 73-0 gewen het. Die mees ervare Bok ooit kan ‘n lang skorsing verwag, maar ‘n versagtende faktor is dat hierdie sy heel eerste rooikaart in 141 toetse was. Lood de Jager en France Mostert het ook rooikaarte ontvang op die toer, maar Mostert s’n is later herroep.
Intussen het die president van SA Rugby, Mark Alexander, die Springbokke geluk gewens met ‘n merkwaardige 2025, onder meer die suksesvolle verdediging van die Rugbykampioenskap-titel, asook as ‘n tweede agtereenvolgende onoorwonne toer na Europa. Alexander sê die span se opofferings, toewyding en onwrikbare verbintenis tot die taak het die nasie weereens verenig en miljoene inspireer. Hy sê die Bokke het hulself ook met waardigheid en nederigheid as ware ambassadeurs van Suid-Afrika bewys. Alexander prys die Bokke vir hul veerkragtigheid, dissipline en spanwerk.
Springbok Sewes-afrigter, Philip Snyman, sê hulle wil die foute van Dubai regstel voor die naweek se wêreldreekstoernooi in Kaapstad. Die Blitsbokke het Frankryk in Dubai geklop voordat hulle teen Fidji en Argentinië vasgeval het. Hulle het Sondag egter teruggeveg om vyfde te eindig en 12 punte te verdien. Snyman sê daar was verskeie positiewe aspekte na hul teleurstellende openingsdag van die toernooi wat hulle al 11 keer gewen het. Hy sê hulle het genoeg om mee te werk wanneer hulle hul titel in die Moederstad verdedig.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het sy finale groep aangekondig vir die Afrikabekertoernooi in Marokko. Die opkomende sterre, Shandre Campbell, en die middelveldspeler wat in Engeland gebaseer is, Tylon Smith, is opgeroep vir hul eerste groot internasionale toernooi. Burnley se doelskopper, Lyle Foster, is die enigste speler van ‘n klub onder die topvyf Europese ligas wat ingesluit is. Themba Zwane van Mamelodi Sundowns wat onlangs van ʼn besering herstel het, is nie in die groep nie. Bafana is in Groep B saam met Angola, Zimbabwe en Egipte.
# En motorsport: Red Bull het verskoning gevra vir opmerkings oor Mercedes se bestuurder, Kimi Antonelli, waarin hulle beweer hy het doelbewus toegelaat dat Lando Norris van McLaren hom in Sondag se Katarse Grand Prix se voorlaaste ronde verbysteek. Max Verstappen se wedren-ingenieur, Gianpiero Lambiase, sê dit wou voorkom of Antonelli bloot eenkant toe padgegee het sodat Norris kan verbygaan. Dit volg nadat die Italianer die vierde plek aan die kampioenskapsleier afgestaan het. Red Bull sê hulle was beslis verkeerd en is jammer oor die aanlyn beledigings waaraan Antonelli sedertdien blootgestel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….