Nuus 13:00
BULLETIN 2 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# DA sê die Mededingingskommissie moenie swart ekonomiese bemagtiging voor onderwys plaas in die Curro-ooreenkoms nie
# Rugby: Etzebeth se dissiplinêre verhoor vind na verwagting vandag plaas
# En Samsung onthul sy eerste multi-opvoufoon
# Die DA is bekommerd oor berigte dat die Mededingingskommissie transformasievoorwaardes ingestel het vir die plan om Curro-skole in ‘n organisasie sonder winsoogmerk te omskep. Curro bedien reeds meer as 70-duisend leerders, met 85-persent uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Die DA-lid, Toby Chance, sê hulle is gekant teen enige poging deur owerhede om hierdie werklike hervormende maatreël in ‘n swart ekonomiese bemagtigingsooreenkoms te omskep en sê dit sal rassisme onder die dekmantel van hervorming wees:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het parlemente in Suider-Afrika aangemoedig om dapper, mensgesentreerde stappe te doen om die toenemende klimaatkrisis te oorkom. Sy sê dit bedreig ontwikkeling, veiligheid en die reg op voldoende behuising. Simelane het die simposium van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se parlementêre forum in Durban toegespreek. Sy sê die klimaatskrisis raak veral landelike gemeenskappe en inwoners van informele en peri-stedelike nedersettings wat in vleilande en gebiede woon waar die omgewing sensitief is vir brande:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo sluit vandag sy eerste oorsese besoek in Libanon af, waar hy ‘n gebed sal lei op die terrein van 2020 se bomontploffing. Hy het in sy eerste oorsese toespraak sedert sy verkiesing in Mei gewaarsku dat ambisie en keuses wat geregtigheid en vrede vertrap, die wêreld onbestendig maak. Hy het in Turkye ook vir president Tayyip Erdogan gevra om ‘n bemiddelaar vir wêreldvrede te wees. Die pous het vroeër gesê die enigste oplossing vir die konflik tussen Israel en die Palestyne moet ‘n Palestynse staat insluit.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth se dissiplinêre verhoor sal na verwagting vandag plaasvind ná sy rooikaart teen Wallis. Hy is gestaf omdat hy kontak gemaak het die flank Alex Mann se oog in die doodsnikke van die wedstryd, wat Suid-Afrika 73-0 gewen het. Die mees ervare Bok ooit kan ‘n lang skorsing verwag, maar ‘n versagtende faktor is dat hierdie sy heel eerste rooikaart in 141 toetse was. Lood de Jager en France Mostert het ook rooikaarte ontvang op die toer, maar Mostert s’n is later herroep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-95-sent per vat.
# En laastens: Samsung Electronics het sy eerste multi-opvou-slimfoon onthul om sy posisie te probeer verstewig in ‘n sektor waar mededinging na verwagting gaan toeneem. Die bekendstelling van die Galaxy Z TriFold is Samsung se poging om sy posisie in te neem in ‘n afdeling waar Chinese mededingers goed vaar. Die model, wat ongeveer 42-duisend-rand kos, het drie panele en is byna 25-persent groter as Samsung se nuutste Galaxy-opvoumodel. Die nuwe toestel het nie ten doel om verkoopsyfers te verbeter nie, maar is eerder vir klante wat spesifiek daarna soek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….