Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Jerry Flannery, sê hulle jaareindtoer gaan ‘n groot en uitdagende toets vir die span wees. Suid-Afrika draf in November uit teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die Bokke skop die toer Saterdag af met ʼn kragmeting met Japan op die Wembley-stadion in Londen. Flannery gee toe dat vyf toetse binne vyf weke die wêreldkampioen fisies en geestelik gaan uitdaag, maar glo dis presies die soort toets wat die groep nodig het:
Japan se afrigter, Eddie Jones, glo intussen dis nie onmoontlik om die Springbokke Saterdag te klop nie. Die Japannese het die afgelope naweek sake moeilik gemaak vir die Wallabies in Tokio. Australië het net 19-15 gewen na ‘n rustyd-voorsprong van 14-3. Jones het verwys na Japan se legendariese oorwinning oor Suid-Afrika in Brighton, Engeland, tydens 2015 se Wêreldbekertoernooi. Hy sê die Bokke maak foute wanneer hulle onder druk is. Afrigter Rassie Erasmus gaan na verwagting vanmiddag sy span aanwys vir die wedstryd op die Wembley-stadion in Londen.
# Krieket: Suid-Afrika en Pakistan se manspanne pak mekaar vandag in die eerste van drie T20-wedstryde in Rawalpindi nadat die toetsreeks een-elk gelykop geëindig het. Donovan Ferreira sal die Proteas aanvoer terwyl Aiden Markram ‘n ruskans kry. David Miller sou as kaptein gedien het, maar het ‘n beenbesering opgedoen. Matthew Breetzke is as kaptein aangewys vir die eendagwedstryde. Die tweede T20 word Vrydag in Lahore gespeel en die laaste wedstryd die volgende dag op dieselfde veld. Die eendagwedstryde word van volgende Dinsdag almal in Faisalabad gespeel.
# Atletiek Suid-Afrika se president, James Moloi, het ʼn skorsing-kennisgewing ontvang. Dit volg na ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee oor Moloi se gebruik van sy ASA-kredietkaart, veral wat ʼn klomp twyfelagtige kostes soos uitgawes by kroeë betref. Moloi het tot Vrydag tyd om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie. Atletiek Suid-Afrika sê ʼn tugkomitee sal bepaal of daar opgetree moet word teen enige ander beampte, insluitend die waarnemende hoof en finansiële bestuurder.
# En tennis: 2023 se naaswenner, Grigor Dimitrov, het sy terugkeer tot die ATP-toer na ‘n afwesigheid van 14 weke weens ʼn besering gevier met ʼn oorwinning in skoon stelle in die eerste ronde van die Paryse Meesterstoernooi. Die Bulgaar het die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard verslaan. 2018 se kampioen, Karen Khachanov van Rusland, het die tweede ronde gehaal met ʼn maklike sege oor die Amerikaner Ethan Quinn. Die Brit Cameron Norrie speel in die tweede ronde teen Carlos Alcaraz van Spanje nadat hy met die Argentyn Sebastian Baez afgereken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….