Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Suid-Afrika is uit die Onder-20 Wêreldbeker in Chile weens ‘n nederlaag van 3-1 teen Colombië in die ronde van 16. Joel Canchimbo het die telling vir die Suid-Amerikaners in die sewende minuut geopen, maar Amajita het daarin geslaag om gelyk te maak deur Mfundo Vilakazi se strafskop. Twee doele laat in die tweede helfte van Neiser Villareal het die oorwinning vir Colombië verseël om ‘n kwarteindstryd teen Spanje te bespreek. Nigerië is intussen ook uitgeskakel na ‘n nederlaag van 4-0 teen Argentinië.
# Rugby: Vier Springbokke – Makazole Mapimpi, Ethan Hooker, Vincent Koch en Bongi Mbonambi – is in die Haaie se groep ingesluit vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Leinster in Dublin. Mapimpi en Hooker is in die opdrafspan en Koch en Mbonambi op die bank. Die losskakel Siya Masuku keer ook terug op die bank en Jason Jenkins vervang Deon Slabbert op slot. Die Haaie se oorsese toer het begin met ‘n nederlaag teen Glasgow en ‘n gelykop-uitslag teen die Dragons.
# Krieket: Die Protea-snelbouer Kwena Maphaka moes weens ‘n beenbesering onttrek aan Saterdag se eenmalige T20-wedstryd teen Namibië en die toer na Pakistan. Die 19-jarige het verlede week die besering opgedoen toe hy vir die Lions in Kaapstad gespeel het. Hy sal die volgende vier weke rehabilitasie ondergaan. Die Dolphins se snelbouler, Ottneil Baartman, vervang Maphaka terwyl Lizaad Williams by die eendaggroep aansluit vir die reeks teen Pakistan.
Nog krieketnuus: Beth Mooney se honderdtal het Australië gered nadat die top-orde in duie gestort het, en hulle het Pakistan met 107 lopies verslaan op die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die verdedigende kampioen het gewankel op 76 vir sewe, maar Mooney het 109 aangeteken en die hoogste vennootskap om die negende paaltjie ooit in vroue-eendagkrieket met Alana King gedeel, 106 van 96 balle, terwyl Australië herstel het tot 221 vir nege. Pakistan is daarna vir 114 uitgeboul. Mooney sê die kolfwerk was geestelik uitputtend:
# En gholf: Die Amerikaner Collin Morikawa ontken dat sy opmerkings voor verlede maand se Ryderbeker-toernooi die toeskouers se opruiende gedrag by Bethpage in New York veroorsaak het. Hy het die tuisskare aangemoedig om harder te kere te gaan. Europese spelers is meedoënloos uitgejou terwyl selfs bier na Rory McIlroy se vrou, Erica, gegooi is. Europa het nogtans die kompetisie gewen. Morikawa sê sy kommentaar is ietwat buite verband geruk en hy het nie bedoel dat toeskouers onbeskof moet wees nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….