Nuus 13:00
BULLETIN 9 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bepleit wêreldwye eenheid te midde van toenemende geopolitieke onsekerheid
# Die omstandighede op Fort Hare se kampus in Alice bly gespanne weens gewelddadige studentebetogings
# En krieket: Kwena Maphaka mis die Proteas se volgende paar wedstryde
# President Cyril Ramaphosa sê toenemende geopolitieke onsekerheid ondermyn globale veiligheid en ekonomiese groei. Hy het op die Europese Unie se forum in Brussel, België, hernude toewyding aan vrede, internasionale reg en die hervorming van instellings soos die Verenigde Nasies gevra. Ramaphosa het Suid-Afrika se strategiese vennootskap met die EU geprys en gesamentlike pogings uitgelig om groen en digitale infrastruktuur, handel en vernuwing in Afrika te bevorder ten einde volhoubare groei vir almal te verseker:
# Die Oos-Kaapse polisie sê omstandighede op die Universiteit van Fort Hare se kampus in Alice bly gespanne weens voortgesette studentebetogings. Die polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê agt studente is Dinsdag in hegtenis geneem vir openbare geweld en sake-inbraak. Hulle het gister in die plaaslike Landdroshof verskyn en die saak is tot volgende maand uitgestel. Mawisa sê niemand is nog aangekeer vir kwaadwillige saakbeskadiging of brandstigting nie:
# Die Ouditeur-Generaal het die tweede agtereenvolgende jaar ‘n ongekwalifiseerde ouditmening aan die SABC uitgereik vir sy finansiële state tot 31 Maart. Die uitsaaier het ‘n toename van tien-persent in TV-lisensie-inkomste bereik om verlede jaar se daling van sewe persent om te keer. Die SABC het ondanks die vordering egter ‘n netto-verlies van 240-miljoen-rand aangeteken namate uitgawes vinniger as inkomste gestyg het. Die uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, sê die prestasie weerspieël groeiende bestendigheid en sterker bestuur te midde van befondsings-uitdagings.
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldhandelsorganisasie het sy voorspelling vir die groei van globale handel in goedere vir 2026 skerp verlaag tot 0,5-persent, teenoor die vorige 1,8-persent. Die organisasie blameer die nagevolge van Amerikaanse president Donald Trump se tariewe. Die hoof van die organisasie, Ngozi Okonjo-Iweala, waarsku vooruitsigte is somber, maar sê die globale handelstelsel bly veerkragtig. Die organisasie het sy voorspelling vir 2025 verhoog tot 2,4-persent, danksy invoerstygings voor die inwerkingtreding van tariefverhogings, en die bloeiende handel rondom kunsmatige intelligensie.
# Krieket: Die Protea-snelbouer Kwena Maphaka moes weens ‘n beenbesering onttrek aan Saterdag se eenmalige T20-wedstryd teen Namibië en die toer na Pakistan. Die 19-jarige het verlede week die besering opgedoen toe hy vir die Lions in Kaapstad gespeel het. Hy sal die volgende vier weke rehabilitasie ondergaan. Die Dolphins se snelbouler, Ottneil Baartman, vervang Maphaka terwyl Lizaad Williams by die eendaggroep aansluit vir die reeks teen Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-702-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-39-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….