Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die nasionale unies van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland, Ierland, Frankryk, Skotland, Italië en Australië het gewaarsku dat enige spelers wat by die wegbreek-R360-kompetisie aansluit, verbied sal word om vir hul lande te speel. R360 beplan om ‘n verkorte kompetisie in Oktober volgende jaar te loods, met spelers wat volgens berigte winsgewende kontrakte aangebied word om oor te skakel. Die unies sê R360 het geen aanduiding gegee van hoe hulle beplan om spelerwelstand te bestuur en hoe die kompetisie met die internasionale en plaaslike kalenders sal saambestaan nie.
Die Springbokhaker Malcolm Marx sê intussen hoewel hulle baie tevrede is om die Rugbykampioenskapstitel twee keer na mekaar te kon verower, lê harde werk nou voor vir hulle toer na die Noordelike Halfrond. Suid-Afrika het die kampioenskap skitterend geeïndig, met agtereenvolgende oorwinnings oor die All Blacks en die Pumas, maar Marx sê hulle moet verbeter. Die Bokke speel op 1 November teen Japan in Londen, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys, Italië in Turyn, Ierland in Dublin en Wallis in Cardiff op agtereenvolgende naweke.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se voorspeler, Iqraam Rayners, het onttrek aan Bafana Bafana se deurslaggewende Wêreldbeker-kwalifiseerders teen Zimbabwe en Rwanda. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Rayners is weens mediese redes aan die groep onttrek. Evidence Makgopa is as sy plaasvervanger opgeroep. Rayners se onttrekking volg op dié van Orlando Pirates se voorspeler, Relebohile Mofokeng, weens ‘n besering. Suid-Afrika pak Zimbabwe Vrydag in Durban en Rwanda Dinsdag in Mpumalanga.
# Krieket: Engeland het haar tweede oorwinning van die Wêreldbekertoernooi vir vroue behaal deur Bangladesh in ‘n taai stryd in Guwahati met vier paaltjies te klop. Engeland is nou bo-aan die punteleer. Sophia Ecclestone het drie paaltjies platgetrek en Bangladesh is vir 178 uitgeboul. Heather Knight het daarna ‘n onoorwonne 79 aangeteken en hulle het die wenteiken in die 47ste boulbeurt gehaal met ses paaltjies plat. Kaptein Nat Scriver-Brunt sê hulle het gedoen wat nodig was om te wen:
# En tennis: Die beheerliggaam van die beroeps-manspel, die ATP, sal ‘n amptelike hitte-reël oorweeg na ‘n aantal uittredes uit die Sjanghaise Meesterstoernooi in China hierdie week. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, is gedwing om handdoek in te gooi weens erge krampe, terwyl spelers soos Casper Ruud van Norweë, David Goffin van België en die Fransman Terence Atmane ook hulle wedstryde prysgegee het weens temperature van bo 30-grade Celcius en vogtigheid van 80-persent. Die ATP sê hy is bereid om die bestaande hitte-reëls aan te pas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….