Nuus 13:00
BULLETIN 8 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi waarsku LP’s om nie misdaadintelligensie-inligting te openbaar nie
# Ramaphosa kom in Ierland aan om handel en samewerking te versterk
# En die hoof van die EU vra Europa moet sy verdediging versterk teen Rusland se hibriede oorlogvoering
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het parlementslede gewaarsku om te verhoed dat sensitiewe misdaadintelligensie-inligting in die media bekend gemaak word. Hy verskyn tans voor die Parlement se ad hoc-komitee wat korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Mkhwanazi sê sensitiewe inligting moenie onverskillig in die openbaar gedeel word nie, aangesien sulke openbaarmakings voortgesette ondersoeke kan benadeel:
# Die Cullinan-Landdroshof in Pretoria het borgtog van twee-duisend-rand elk toegestaan aan twee taxi-operateurs, wat daarvan beskuldig word dat hulle vyf mans gemartel en doodgebrand het. Masipa Victor Maepa en Job Matsobane Magongwa staan tereg op vyf aanklagte van moord, vyf aanklagte van ontvoering en vyf aanklagte van aanranding. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê Magongwa het ‘n vorige aanrandingsveroordeling:
# President Cyril Ramaphosa het in Dublin, Ierland, aangekom vir ‘n ampsbesoek wat daarop gemik is om handel en bilaterale verhoudings te versterk. Hy sal met president Michael Higgins en eerste minister Micheál Martin vergader om samewerking met wetenskap, vernuwing, onderwys en beleggings te bespreek. Die besoek beoog om bande tot ‘n strategiese vennootskap te verhef. Ramaphosa word vergesel deur die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, om geleenthede vir belegging en samewerking te ondersoek.
# Die hoof van die Europese Unie, Ursula von der Leyen, sê Europa moet sy verdediging versterk om Rusland se hibriede oorlogvoering teen te staan. Dit volg op ‘n reeks luginvalle, kuberaanvalle en skade aan ondersese kabels. Von der Leyen noem dit ‘n samehangende en verergerende veldtog teen Europa en sê die vasteland moet reageer. Die EU-lidlande Pole, Estland en Roemenië is onlangs geskud deur Russiese luginvalle, terwyl ongeïdentifiseerde hommeltuie in Denemarke, Duitsland en België opgemerk is.
# Tennis: Novak Djokovic bly die gunsteling om sy rekord van vyf titels in die Shanghaise Ope in China te verbeter terwyl ander top-gekeurdes reeds onttrek het of uitgeskakel is. Hy het ondanks uitputting en ‘n enkelbesering na die kwarteindronde deurgedring met ‘n oorwinning in drie stelle oor Jaume Munar van Spanje. Die 38-jarige Serwiër het aan die begin van die beslissende stel gelyk of hy nie verder kan speel nie, maar van iewers nuwe energie gekry om Munar te verslaan, wat tien jaar jonger as hy is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-641-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-36-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….