Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die Suid-Afrikaners Puseletso Makobe en Simoné Kruger het albei goud verower op die laaste dag van die Wêreld-para-kampioenskap in Nieu-Delhi, Indië. Mabote het die T63 100-meter vir mans in ‘n byeenkoms-rekordtyd van 12.03-sekondes gewen, terwyl Kruger, die Paralimpiese gouemedaljewenner in skyfwerp in Parys, haar beste afstand dié seisoen gegooi het met 37,39-meter in die vroue se F-38-afdeling. Suid-Afrika het die kampioenskap afgesluit met vier medaljes – die twee goues en brons vir Cheryl James en Collen Mahlalela. China het die meeste medaljes, 52, ingepalm.
# Sokker: Suid-Afrika is deur na die uitklopfase van die Onder-20-Wêreldbekertoernooi in Chili na ‘n oorwinning van 2-1 oor Amerika. Die Amerikaners het die voortou geneem met ‘n doel deur Noah Cobb, en Amajita het die telling gelykop gemaak toe Joshua Wynder ‘n eie doel aangeteken het. Die ommekeer is voltooi toe Gomolemo Kekana net voor rustyd die tweede doel aangeteken het. Ondanks die nederlaag gaan die Amerikaners steeds deur as wenner van Groep-E, terwyl Amajita tweede is op doelgemiddeld en in die laaste 16 teen Colombië speel.
# Rugby: Die Leeus het hul tweede agtereenvolgende nederlaag in dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap gely toe hulle 22-20 teen Zebre Parma in Italië verloor het. Dit het gelyk of Morné Brandon die wenpunte in die 74ste minuut vir die Leeus aangeteken het. Maar ‘n drie in die doodsnikke deur Matteo Nocera, verdoel deur Martin Roger Farias, het aan die Italiaanse span ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning in die kompetisie besorg. Die onoorwonne Bulle is boaan die VRK-punteleer met tien punte, gevolg deur die Stormers en Munster.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Richard Sterne glo sy vertoning in die Alfred Dunhill Links-kampioenskap op St Andrews in Skotland is ‘n reuse-keerpunt in sy loopbaan. Die 44-jarige en John Parry van Engeland was gesamentlik derde. Robert MacIntyre is die eerste plaaslike speler in 20-jaar wat die trofee kon lig, met Tyrrell Hatton van Engeland wat tweede was. Sterne sê die uitslag is bemoedig na sy uitmergelende heupbesering, maar daar is nog werk wat gedoen moet word:
# En motorsport: Mercedes se renjaer, George Russell, het ‘n oortuigende oorwinning in die Singapoerse Grand Prix behaal, sy tweede van die seisoen. Max Verstappen van Red Bull en Lando Norris van McLaren het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Oscar Piastri moes met die vierde plek tevrede wees, en sy voorsprong bo spanmaat Norris is nou verminder tot 22 punte in die bestuurderskampioenskap. Intussen het McLaren die vervaardigerskampioenskap die tweede agtereenvolgende jaar beklink. Russell sê hy is gelukkig oor sy oorwinning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….