Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, is steeds op die wenpad op die Junior Wêreldkampioenskap na hulle die gasheer, Georgië, 33-5 verslaan het in Tbilisi. Siphosethu Mnebelele het twee van die Junior Springbokke se vyf drieë gedruk. Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Wallis het ook oorwinnings behaal in die tweede ronde van groepswedstryde. Die Bokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se selfbeheersing en volwassenheid teen die fisiese Georgië geloof:
Nog rugbynuus: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, het George Furbank, Immanuel Feyi-Waboso en George Martin in die beginspan ingesluit vir môre se Nasieskampioenskapstoets teen Suid-Afrika op Ellispark in Johannesburg. Hulle keer na ‘n lang afwesigheid terug. Jamie George sal die span aanvoer terwyl die gereelde kaptein, Maro Itoje, ‘n ruskans kry. Die 21-jarige Henry Pollock is op die bank. Borthwick sê dis een van die grootste toetse in wêreldrugby om op Ellispark teen Suid-Afrika te speel en ‘n geleentheid wat hulle opgewonde gaan aangryp.
# Krieket: Die Protea-vroue se afrigter, Mandla Mashimbyi, sê waardevolle lesse is geleer uit hulle nederlaag teen Engeland in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die gasvrou het Suid-Afrika met 40 lopies geklop en speel Sondag in die eindstryd op Lord’s teen die sesmalige kampioen, Australië. Mashimbyi sê daar was talle positiewes en die werk wat hulle nou insit moet verseker dat hulle gereed is wanneer hulle weer aan ‘n Wêreldbekertoernooi deelneem:
# Sokker: Die tweemalige kampioen, Spanje, het die Wêreldbekertoernooi se laaste 16 gehaal met ‘n maklike oorwinning van 3-0 oor Oostenryk in Los Angeles. Mikel Oyarzabal se twee doele en een van Pedro Porro het Spanje se sege verseker – sy eerste in die uitklopfase van die toernooi sedert hy dit in 2010 in Suid-Afrika gewen het. Portugal het in Toronto ʼn agterstand ingehaal en Kroasië 2-1 verslaan na ʼn doel deur kaptein Cristiano Ronaldo, en Goncalo Ramos se wendoel in die 94ste minuut. Portugal en Spanje pak mekaar Maandag.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, is deur na die derde ronde van Wimbledon toe sy die Tsjeg Karolina Pliskova geklop het. Die voormalige kampioen, Elena Rybakina van Kasakstan, het maklik afgereken met die Amerikaner Caty McNally, terwyl verlede jaar se naaswenner, Amanda Anisimova, haar Amerikaanse landgenoot, Sofia Kenin, verslaan het. In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev die Fransman Valentin Royer uitgeskakel. Matteo Berrettini van Italië het Arthur Fils van Frankryk geklop, terwyl die Bulgaar Grigor Dimitrov die Tsjeg Jakub Mensik getroef het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….