Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die toporde-kolwer van Sunrisers Eastern Cape, Dawid Malan, sê hulle eerste doelwit vir vanjaar se SA20 is om die rondomtalie-fase te oorleef. Die verdedigende kampioen skop die seisoen môre tuis in Gqeberha af teen Joburg Super Kings. St Georgepark sal na verwagting stampvol wees en Malan sê hy sien regtig daarna uit om voor die stadion se beroemde orkes te speel. Die Engelse speler glo ‘n paar vroeë oorwinnings sal hulle momentum gee vir die res van die kompetisie.
# Vervolgens, rugby: Jamie George van Engeland sê Owen Farrell se diens aan die Engelse rugbyklub Saracens laat hom toe om die klub op sy eie voorwaardes te verlaat. Die France klub Racing 92 (RA-sieng) het volgens berigte met samesprekings begin om ‘n kontrak met Engeland se kaptein te onderteken, hoewel hulle nog nie ‘n ooreenkoms bereik het nie. Farrell se kontrak met Saracens verval na afloop van die 2023/2024 Premierliga-seisoen. George sê, indien Farrell Saracens wel verlaat, sal dit ‘n groot verlies wees vanweë sy stoffasie as speler en mens. Indien Farrell by Racing 92 aansluit, sal hy nie vir die nasionale span in aanmerking kan kom nie.
Ons bly by rugby: Ierland se Australies-gebore vleuel, Mack Hansen, gaan die Sesnasies misloop nadat hy sy skouer op Nuwejaarsdag ontwrig het in Connacht se kragmeting met Munster in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hy is gister geopereer en sal na verwagting tot vier maande lank buite aksie wees. Die 25-jarige het reeds 21 toetse vir Ierland gespeel en was verlede jaar in die opdrafspan in vier Wêreldbekerwedstryde in Frankryk. Ierland moet ook sonder die stut, David Kilcoyne, klaarkom, wat ʼn skouerbesering opgedoen het. Die Sesnasies begin die tweede van volgende maand.
# Nou tyd vir sokker: Die titelhouers Manchester City kom in die vierde ronde van die F-A-beker teen Tottenham te staan. Manchester United, wat Wigan Athletic gister twee-nul verslaan het, speel ʼn wegwedstryd teen óf die tweedeliga-span Newport County, óf die nasionale ligaspan, Eastleigh. Chelsea pak Aston Villa, en Newcastle United en Fulham spook sake uit. Liverpool, wat Arsenal geklop het, speel op sy tuisveld teen Norwich óf Bristol Rovers. Maidstone United, die span heel onder op die punteleer, takel die Kampioenskapspan, Ipswich. Die wedstryde word op die naweek van die 27ste gespeel.
# Ons sluit af met gholf: Die vyftienmalige major-kampioen, Tiger Woods, en sportdrag-reus Nike het hulle vennootskap na meer as 27 jaar beëindig. Die 48-jarige Woods het Nike gedra sedert hy as 20-jarige ʼn beroepspeler geword het. Hy het sowat 12.3-miljard-rand uit die vennootskap met Nike gemaak. Nike sê deur die loop van die vennootskap het Woods nie net gholf as sport herdefinieer nie, maar vir alle sport grense oorgesteek. Woods het laat blyk die Genesis-uitnodigingstoernooi volgende maand is moontlik sy eerste toernooi van die jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….