Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Kylian Mbappé het vir Frankryk geskitter toe die tweemalige kampioen Swede in New Jersey 3-0 verslaan het vir ‘n ontmoeting met Paraguay in die Wêreldbeker se ronde van 16. Mbappé het twee doele aangeteken en is nou een agter die Argentyn Lionel Messi as die voorste puntemakers ooit. In Dallas het Noorweë Ivoorkus 2-1 geklop vir ‘n ontmoeting met die vyfmalige kampioen, Brasilië. Die mede-gasheer, Mexiko, het Ecuador 2-0 verslaan en speel volgende teen Engeland of die Demokratiese Republiek die Kongo.
Julian Nagelsman wil intussen aanbly as Duitsland se afrigter al is die viermalige kampioen tydens die ronde van 32 uitgeskakel. Hul onverwagte nederlaag teen Paraguay is die eerste keer dat Duitsland ooit ‘n strafdoelstryd op ‘n Wêreldbekertoernooi verloor het. Nagelsman se kontrak strek tot 2028 se Europese Kampioenskap, maar hy verkeer onder druk terwyl die voormalige afrigter van Liverpool, Jurgen Klopp, as ‘n moontlike plaasvervanger beskou word. Nagelsman sê hy het baie jong spelers van gehalte in die groep vir die pad vorentoe.
# Rugby: Die jong losskakel van die Haaie, Luan Giliomee, sal die Junior Springbokke se nommer tien-trui dra in môre se Junior Wêreldkampioenskaps-wedstryd teen die gasheer, Georgië. Hy is van heelagter geskuif, terwyl nog ‘n ander wonderkind, Markus Muller van die Stormers, op binnesenter inkom. Afrigter Kevin Foote het grootskaalse veranderinge gemaak nadat sy span Uruguay Saterdag 104-7 afgeransel het in hul openingswedstryd, met slegs vier spelers van daardie groep wat nog in die span is. Giliomee en Muller was op die bank teen Uruguay.
# Krieket: Die sesmalige kampioen, Australië, is deur na die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue nadat hulle die Wes-Indiese Eilande met agt paaltjies verpletter het op die Oval in Londen. Die Windies is tot 125 vir sewe beperk en Beth Mooney het daarna ‘n onoorwonne 61 aangeteken. Australië het die teiken maklik gehaal en speel Sondag in die eindstryd op Lord’s teen Suid-Afrika of Engeland. Mooney sê dis spesiaal:
# En laastens, tennis: Die 23-malige Grand Slam-kampioen Serena Williams het in die eerste ronde van Wimbledon verloor. Die 44-jarige Amerikaner het teen Maya Joint van Australië vasgeval in haar eerste enkelspelwedstryd in byna vier jaar. Iga Swiatek van Pole het haar titelverdediging begin met ‘n oorwinning oor die Amerikaner Taylor Townsend. In die mansafdeling het die Franse Ope-kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, die Belgiese nuweling Alexander Blockx geklop. Die vierde-gekeurde Amerikaner Ben Shelton het verloor teen Otto Virtanen van Finland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….