Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Krieket Suid-Afrika wag vir die Internasionale Krieketraad se verslag oor die oppervlak van die kolfblad op Nuweland waar ‘n toets in slegs 107 boulbeurte afgehandel is. Die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië was die kortste wedstryd in die geskiedenis van die spel met slegs 642 balle wat geboul is – 14 minder as die vorige rekord van 656 balle in die toets tussen Suid-Afrika en Australië in Melbourne tydens die toer van 1931/32. Nuweland was ook in 1993 in die nuus met die eendag-debakel tydens ‘n Internasionale Reeks weens sy kolfblad wat die bal uitermatig laat bons en draai het. Dit het daartoe gelei dat die Wes-Indiese Eilande Pakistan in slegs 19 boulbeurte vir 43 uitgehaal het.
Krieketnuus van elders: Aamer Jamal van Pakistan het ses paaltjies geneem om sy span ‘n eerstebeurt-voorsprong van 14-lopies oor Australië te gee op die derde dag van derde toets in Sydney. Maar die besoekers het toe ‘n aaklige tweede beurt beleef en voor uitskeityd sewe paaltjies verloor met net 68 op die telbord, vir ‘n voorsprong van 82 lopies. Josh Hazlewood het vier paaltjies ingeoes. Pakistan het in hulle eerste beurt 313 aangeteken voor hulle die gashere uitgeboul het vir 299. Die gashere het reeds die reeks van drie wedstryde gewen deur die eerste twee toetse in te palm.
# Vervolgens, atletiek: Die regsontleder Mpumelelo Zikalala twyfel oor Oscar Pistorius se terugkeer na mededingende sport. Zikalala het op 702 gesê as die voormalige Paralimpiese kampioen sou wou terugkeer na die baan, sal hy toestemming van die Paroolraad moet kry. Die man bekend as die Lemnaeler is vanoggend op parool vrygelaat nadat het agt jaar van sy vonnis van 13 jaar en agt maande vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, in 2013 uitgedien het. Zikalala sê die paroolproses is gemik op rehabilitasie en nie finansiële gewin nie.
# Tennis is volgende aan die beurt: Rafael Nadal van Spanje speel vandag teen die plaaslike speler Jordan Thompson in die kwarteindronde van die Brisbane internasionale toernooi in Australië. Die 22-malige Grand Slam-kampioen wat ‘n jaar lank buite aksie was weens ‘n besering, lyk gevaarlik nadat hy na die toer teruggekeer het. Hy het Dominic Thiem van Oostenryk en nog ‘n Australiër, Jason Kubler, in die vorige rondes albei in skoon stelle geklop. Nadal berei voor vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi, die Australiese Ope, wat volgende Sondag in Melbourne begin. Hy is tevrede met sy vertonings:
# En, ons sluit af met veerpyltjies: Die tienersensasie Luke Littler is gekies vir die Premierliga-veerpyltjie-toernooi ná sy sprokiesverhaal-vordering tot by die eindstryd van die PDC-wêreldkampioenskap. Slegs agt spelers neem aan die reeks oor 16 weke deel en die 16-jarige wat Woensdag in die eindstryd met 7-4 deur Luke Humphries geklop is, is ingesluit. Humphries, die wêreld-nommer-een, is ook betrokke en sal sy debuut in die kompetisie maak. Die toernooi begin op 1 Februarie in Cardiff. Littler, wat 17 jaar oud sal wees wanneer die toernooi begin, is die jongste speler nóg om aan die Premierliga deel te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….