Sportnuus 12:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
# Ons begin met fantastiese atletieknuus: Twee van Suid-Afrika se Olimpiese silwermedaljewenners het hulle skitterende vertonings voortgesit op Wêreldatletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Bayana Walaza het goud verower en Bradley Nkoana brons in die mans-100-meter. Walaza se wentyd was 10,19-sekondes, terwyl Puripol Boonson van Thailand silwer ingepalm het. Walaza en Nkoana was deel van die mans vier-maal-100-meter aflosspan wat vroeër die maand tweede gekom het in Parys. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Johannes Morepe, is intussen deur na die eindronde van die een-duisend-500-meter in Lima.
# Vervolgens, rugby: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Scott Robertson, het twee veranderings aangebring aan sy beginspan vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Suid-Afrika op Ellispark. Kaptein Scott Barrett, wat weens ʼn vingerbesering op die kantlyn was, vervang Sam Darry terwyl oudkaptein Sam Cane in Dalton Papali’i se plek sal opdraf. Dit sal Cane se 97ste toets wees. Robertson sê een van die grootste uitdagings waarvoor hulle kan voorberei, is ʼn kragmeting met die Springbokke op Ellispark en hulle sal die beste maak van die geleentheid.
# Ons maak ‘n draai by krieket: Die Protea Vroue en Pakistan kom volgende maand teen mekaar te staan in ‘n reeks van drie T20-wedstryde terwyl hulle voorberei vir die Wêreldbekertoernooi, wat vroeg in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die wedstryde word van die 16de tot die 20ste in Multan gespeel. Die Proteas reis daarna na die Emirate waar hulle op 4 Oktober teen die Wes-Indiese Eilande speel, gevolg deur groepskragmetings met Engeland, Skotland en Bangladesj. Die eindstryd is op die 20ste.
# Boks is vogende aan die beurt: Die parlementêre portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur vra ʼn forensiese ondersoek na Boks Suid-Afrika se sake. Die regsgeding teen die gewese uitvoerende hoof, Moffat Qithi, kos BSA 12-miljoen-rand, wat daartoe gelei het dat dit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens 4,5-miljoen-rand skuld. Sy begroting is ook reeds in Desember uitgeput, drie maande voor die einde van die boekjaar. Die komitee sê die minister van Sport, Gayton McKenzie, sal binne 21 dae ʼn plan van aksie voorlê as eerste stap om BSA se situasie te verbeter.
# En, ons sluit af met tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic van Serwië, is deur na die derde ronde van die Amerikaanse Ope nadat sy landgenoot Laslo Djere in die derde stel weens ‘n besering onttrek het. Die Amerikaner Taylor Fritz het die Italianer Matteo Berrettini in skoon stelle verslaan terwyl die Noorweër Casper Ruud met Gael Monfils van Frankryk afgereken het. Die verdedigende vrouekampioen, Coco Gauff van Amerika, het die Duitser Tatjana Maria verslaan. Die Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek, het verloor teen die Roemeense kwalifiseerder Elena-Gabriela Ruse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….