Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met die Paralimpiese Spele: Die swemmer Kat Swanepoel en die naelloper Mpumelelo Mhlongo dra vanaand die vlag vir Span Suid-Afrika tydens die openingseremonie in Parys. Albei is moontlike medaljewenners. Swanepoel het verlede jaar goud en silwer gewen op die Wêreld Para-Swemkampioenskappe in Manchester. Die Spele het tydens die Olimpiese Spele in Londen in 1948 as ‘n informele byeenkoms vir veterane van die Tweede Wêreldoorlog begin en gegroei tot een van die grootste sportbyeenkomste ter wêreld. Die openingseremonie sluit ‘n parade langs die wêreldberoemde Champs-Élysées in.
# Vervolgens, atletiek: Die Suid-Afrikaners Bradley Nkoana en Bayanda Walaza is deur na die eindronde van die mans-100-meter op Wêreldatletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Puripol Bonsoon van Thailand het Nkoana in hulle halfeindronde met ‘n duisendste van ʼn sekonde geklop. Walaza het herstel nadat hy vroeg in die wedloop gestruikel het, en die derde halfeind in 10,33-sekondes gewen, met die Brit Teddy Wilson tweede. Nkoana en Walaza was albei deel van die vier-maal-100-meter-aflosspan wat vroeër die maand silwer gewen het op die Olimpiese Spele in Parys.
# Nou, rugby: Eben Etzebeth kan steeds Saterdag in die Rugbykampioenskapstoets vir die Springbokke teen die All Blacks op Ellispark speel al is hy weens ‘n seer knie uit die wedstrydgroep gelaat. Pieter-Steph du Toit is op nommer 4 gekies en sal saam met Ruan Nortjé die slotpaar vorm. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê egter Etzebeth, ‘n veteraan van 124 toetse, kan dalk ingesluit word in die plek van een van die plaasvervanger-losvoorspelers, Kwagga Smith, Marco van Staden en Elrigh Louw.
# ‘n Kykie na krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Suid-Afrika met agt paaltjies geklop in die laaste T20 in Trinidad, en so skoonskip gemaak in die reeks van drie wedstryde. Die Proteas het teleurgestel nadat hulle in Junie die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi op die eilande gehaal het. Hulle keer nou huis toe vir ‘n besige somerseisoen van tuiswedstryde. Die Proteas se witbalafrigter, Rob Walter, sê die Windies was eenvoudig te goed:
# En, ons sluit af met tennis: Die wêreld se voorste speler, Jannik Sinner van Italië, het herstel van een stel agter om die Amerikaner Mackenzie McDonald te klop en na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope deur te dring. Carlos Alcaraz van Spanje het sy 60ste Grand Slam-oorwinning behaal toe hy die Australiese kwalifiseerder Li Tu verslaan het. Stefanos Tsitsipas van Griekeland is die sewende agtereenvolgende jaar vroeg uitgeskakel toe hy teen Thanasi Kokkinakis van Australië verloor het. In die vroue-afdeling het die voormalige kampioen, Emma Raducanu van Brittanje, teen die Amerikaner Sofia Kenin verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….