Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met die Olimpiese Spele: Drie Suid-Afrikaanse swemmers gaan vanaand probeer medaljes inpalm in Parys. Tatjana Smith en haar oefenmaat, Kaylene Corbett, is deur na die eindronde van die vroue-200 meter-borsslag. Smith was tweede in haar halfeindronde-uitdun, en is ‘n stap nader aan dubbele goud nadat sy reeds die 100 meter-borsslag gewen het. Corbett was ook tweede in haar halfeindronde-uitdun. Pieter Coetzé het die eindronde van die mans-200 meter-rugslag gehaal toe hy tweede gekom het in sy halfeindronde-uitdun.
Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan is intussen uitgeskakel ná hulle nederlaag van drie-nul teen Spanje. Die vrouespan het met twee-een teen Brittanje verloor. Intussen het die bronswenner van 2016 se Spele in Rio, Henri Schoeman, 20ste klaargemaak en James Riddle 25ste in die mans se individuele driekamp wat die Brit, Alex Lee, gewen het. Vicky van der Merwe was 46ste in die vroue-afdeling. In die roei-item het die gouemedalje-wenner in Londen, John Smith, en Christopher Baxter vierde geëindig in hulle halfeindronde terwyl Paige Badenhorst Saterdag sal probeer om ʼn algehele 13de tot 18de plek te kry.
# Vervolgens, rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het ses nuwe spelers in sy groep van 36 ingesluit vir hulle eerste twee Rugby-kampioenskapstoetse teen die Springbokke in Brisbane en Perth. Die nuwelinge sluit in die Olimpiese sewes-ster Corey Toole en Marika Koroibete, wat in Japan speel. Angus Bell en die 19-jarige Max Jorgensen is terug nadat hulle weens beserings gedeeltes van die Super-rugbyseisoen misgeloop het. Die losskakel Tom Lynagh, wat verlede maand sy debuut vir die Wallabies gemaak het, sê dit is ‘n groot eer om vir Australië te speel:
# Krieketnuus: ‘n Wes-Indiese uitnodigings-elftal hervat vandag sy eerste beurt op 245 vir ses in die opwarmingswedstryd teen die Proteas, wat voorberei vir die twee toetse teen die Windies. Suid-Afrika het die loot gewen in Trinidad en Tobago en gekies om te boul. Die tuisspan se openingskolwer, Jeremy Solozano, het die beste gevaar deur 111 aan te teken terwyl die snelbouler Kagiso Rabada drie paaltjies ingeoes het. Rabada sê hy geniet dit baie om in die Karibiese Eilande te wees:
# En, ons sluit af met sokker: Die Engelse Premierliga het die heersende kampioen, Manchester City, met 48,07-miljoen-rand beboet omdat hulle wedstryde se afskop of hervatting vertraag het. Daar was die afgelope twee seisoene 22 sulke voorvalle – agt in die 2022/’23-veldtog en 14 verlede seisoen. City het verskoning gevra vir die oortredings. Die Premierliga sê reëls in verband met afskoppe en hervatting dra by dat die kompetisie volgens die hoogste beroepstandaard georganiseer word en verskaf sekerheid aan ondersteuners en deelnemende klubs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….