Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het bevestig nege spelers sal die eenmalige toets teen Wallis en die eerste van twee toetse teen Ierland misloop weens beserings. Hulle sluit in die gereelde toetsspelers Steven Kitshoff, Lood de Jager, Canan Moodie, Damian Willemse en Kurt-Lee Arendse. Erasmus sê dit is nog onseker of Cheslin Kolbe betyds fiks sal wees vir die toets teen Wallis:
Erasmus sê ook Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi is die voorlopers om die span volgende naweek op Twickenham aan te voer teen Wallis. Siya Kolisi is nie beskikbaar nie omdat dit buite die amptelike toets-venster val en sy Franse klub, Racing 92, hoef hom nie vir internasionale diens vry te stel nie. Erasmus sê ‘n finale besluit oor die kapteinskap sal voor volgende maand se reeks van twee wedstryde teen Ierland geneem word:
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland en die Amerikaner Patrick Cantlay het albei vyf onder 65 behaal en loop saam voor na die eerste ronde van die Amerikaanse Ope in Noord-Carolina. Die nuweling, Ludvig Åberg van Swede, is een hou agter in die derde plek. Die wêreld se nommer een, die Amerikaner Scottie Scheffler, het op een oor 71 klaargemaak terwyl die driemalige kampioen, Tiger Woods, vier oor baansyfer het. McIlroy, wat sy vyfde major-titel wil inpalm, sê hy het ʼn beheerste ronde gespeel:
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Engeland, het Oman met agt paaltjies verpletter en het steeds ‘n kans om die T20-Wêreldbekertoernooi se Super Agt-ronde te haal. Mark Wood, Jofra Archer en Adil Rashid het geskitter met die bal en Oman vir 47 uitgeboul. Kaptein Jos Buttler se onoorwonne 24 het Engeland gehelp om die teiken binne vier boulbeurte te bereik, wat die vinnigste lopie-jaagtog in die toernooi se geskiedenis is. Engeland sal vir die Super-agt kwalifiseer indien hy die naweek met Namibië afreken en Skotland teen Australië verloor.
# En, tennis: Wimbledon het bekendgemaak die prysgeld styg tot 1,173-miljard-rand, met die enkelspelkampioene wat elk net minder as 63,4-miljoen-rand in die sak sal steek. Die organiseerders het die prysgeld vir die rolstoeltoernooi ook met 35-persent tot 23,5-miljoen-rand verhoog. Die voorsitter van die All England-klub in Londen, Debbie Jevans, sê hulle winste word in die spel teruggeploeg maar hulle gee ook baie aan die spelers terug. Wimbledon begin op die eerste van volgende maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….