Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Die vleuel Cheslin Kolbe is terug by die Springbok-oefenkamp in Pretoria en is moontlik beskikbaar om gekies te word vir volgende maand se toetse teen Ierland. Die dubbele Wêreldbeker-wenner het sy knie beseer tydens die Japanese klubseisoen. Sy rehabilitasie sal nou onder die wakende oog van die Bokke se mediese personeel plaasvind. Die wedstrydgroep word Dinsdag aangekondig vir die eerste toets van die seisoen, volgende naweek teen Wallis op Twickenham.
DStv het intussen aangekondig sy reeks oor die Springbokke se tweede agtereenvolgende Wêreldbeker-triomf sal die langnaweek vir alle intekenare beskikbaar wees. Die reeks van vyf aflewerings, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, word van Saterdag tot Maandag gewys op SuperSport Variety en Mzansi Wethu. Een van die uitvoerende vervaardigers, die uitvoerende hoof van SuperSport, Rendani Ramovha, sê om die storie vir ‘n groter gehoor beskikbaar te maak is een van die redes wat die reeks ‘n ware Suid-Afrikaanse verhaal maak.
# Vervolgens, krieket: Die Wes-Indiese Eilande is deur na die Super Agt-ronde van die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hulle Nieu-Seeland in Trinidad met 13 lopies verslaan het. Sherfane Rutherford het ‘n onoorwonne 68 aangeteken en die mede-gasheer het 149 vir nege bereik. Die snelbouler Alzarri Joseph het daarna vier paaltjies platgetrek, en die draaibouler Gudakesh Motie drie. Die Swartpette kon net 136 vir nege haal. Nieu-Seeland moet in sy oorblywende wedstryde met Uganda en Papoea-Nieu-Guinee afreken en hoop ander uitslae is in sy guns.
# Gholf: Die driemalige kampioen, Tiger Woods, sê hy is vol vertroue dat hy die Amerikaanse Ope kan wen. Die Amerikaner speel die eerste keer sedert hy verlede maand nie die paal gehaal het op die PGA-kampioenskap nie. Hy het in onlangse jare sy speelskedule ingekort weens beserings. Woods meen hy kan steeds ‘n aanspraakmaker wees in majors, maar sê om net die naweek nog te kan speel en al vier rondes te voltooi, sal ‘n groot stap in die regte rigting wees:
# En, ons sluit af met nuus oor die Olimpiese Spele: Die Franse Ope-kampioene Carlos Alcaraz en Rafael Nadal is gekies vir die Spaanse span vir die Spele in Parys. Alcaraz, die wêreld nommer twee, het verlede naweek sy eerste titel gewen op Roland Garros se kleibaan in Parys, waar die Olimpiese toernooi vanaf 27 Julie tot 4 Augustus plaasvind. Afgesien van die enkeIspeltoernooi, sal Alcaraz en Nadal dalk ook aan die dubbelspel deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….