Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Suid-Afrika is op die punt om vir die Super-agt te kwalifiseer in die T20-Wêreldbekertoernooi. Dit volg na ‘n oorwinning met vier lopies oor Bangladesj in New York. ‘n Vennootskap van 79 lopies om die vyfde paaltjie tussen Heinrich Klaasen en David Miller het die Proteas gehelp om 113 vir ses te haal na vier vroeë paaltjies. Keshav Maharaj het daarna drie paaltjies geneem en Bangladesj is beperk tot 109 vir sewe. Klaasen, die speler van die wedstryd, sê die kragmeting gee hulle selfvertroue:
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Gerda Steyn, spits haar aandag nou toe op die Spele in Parys nadat sy Sondag haar Comrades-marathon-titel suksesvol verdedig het in ‘n nuwe rekordtyd. Dit het gevolg op haar oorwinning in die Twee Oseane-marathon in April. Steyn verwag ‘n groot uitdaging in die Olimpiese marathon op tien Augustus. Haar beste tyd oor die afstand van 42,195-kilometer is twee-uur-24-minute terwyl die verdedigende Olimpiese kampioen, Peres Jepschirchir van Kenia, onlangs ‘n nuwe wêreldrekord-tyd van twee-uur-16-minute-16-sekondes opgestel het.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hulle móét vanaand hul Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryd teen Zimbabwe in Bloemfontein wen. Dit sal Suid-Afrika se derde kragmeting teen die Warriors wees in die kwalifiseringsronde vir die wêreld-kompetisie, terwyl hulle net soveel teen hul gereeldste teenstander, Burkina Faso, gespeel het. Broos sê hy is vol vertroue dat sy span die paal sal haal:
Intussen het Prins William van Brittanje ‘n spesiale boodskap van sy jongste seun gehad toe hy die Engelse manspan gegroet het voor hulle vertrek na Duitsland vir Euro 2024. Prins William is die president van die Sokkervereniging en het die 26 spelers se hemde aan hulle oorhandig op St Georgepark. Hulle speel Sondag teen Serwië, gevolg deur kragmetings met Denemarke en Slowenië. William sê die ses-jarige prins Louis het gevra hy moet die spelers aansê om twee keer soveel as gewoonlik te eet terwyl hulle voorberei vir die toernooi.
# Ons sluit af met rugby: Die flank Tom Curry is ingesluit in Engeland se groep vir hulle toer na Japan en Nieu-Seeland, ondanks ‘n seisoen wat deur beserings ontwrig is. Sewe spelers van die Premierskapkampioen Northampton is ook ingesluit. Curry is deel van ‘n groep van 36 wat môre uit Brittanje vertrek, hoewel hy sedert verlede jaar se Wêreldbekertoernooi net 34 minute gespeel het. Die 25-jarige het betyds herstel van ‘n heupbesering om ‘n rukkie te speel in Sale se nederlaag in ‘n Premierskap-halfeindstryd teen Bath op 1 Junie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….