Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Bulle se Springbok-vleuel, Canan Moodie, gaan weens ‘n besering nie môre uitdraf in die Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen Benetton op Loftus Versfeld nie. Die Wêreldbeker-wenner is beseer tydens die Bulle se sege van 26-14 oor die Haaie verlede naweek. Sebastian de Klerk is Moodie se waarskynlike plaasvervanger. Moodie het hierdie seisoen tien drieë in 14 wedstryde vir die Bulle gedruk in al die kompetisies. Die flank Marco van Staden sal waarskynlik ook die wedstryd misloop weens ‘n besering.
Die oud-Stormer Oli Kebble hou intussen duim vas vir ‘n oorwinning oor sy ou span in môre se VRK-kwarteindstryd voor sy tyd by Glasgow Warriors eindig. Die stut het 101 wedstryde vir die Skotse span gespeel sedert hy in 2017 by hulle aangesluit het, asook elf toetse vir sy aangenome land. Die 31-jarige Kebble swyg nog oor wat hy vir volgende seisoen beplan maar sê hy moet binnekort ‘n besluit neem. Hy hoop hy verlaat die Warriors met ‘n trofee.
# Vervolgens, krieket: Mede-gasheer Amerika het Pakistan verstom met ‘n sege in hulle tweede T20-Wêreldbekerwedstryd in Dallas, Texas. Die wedstryd is in die super-boulbeurt beslis nadat albei spanne 159 aangeteken het. Amerika het in die bykomende boulbeurt 18 vir een behaal en Pakistan daarna tot 13 vir een beperk. Intussen het Skotland Namibië met vyf paaltjies verslaan in Bridgetown, Barbados. Richie Berrington het ʼn onoorwonne 47 aangeteken en Skotland het die teiken van 156 in die voorlaaste boulbeurt verbygesteek.
# Tennisnuus uit Parys: Wêreld nommer een Iga Swiatek is goed op koers na haar vyfde Grand Slam-titel nadat sy die Amerikaner Coco Gauff in die halfeindronde van die Franse Open vermorsel het. Die Poolse speler het in net meer as 90 minute 6-2, 6-4 met die derde gekeurde Gauff klaargespeel in ‘n wedstryd wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Die verdedigende kampioen speel môre in die eindstryd teen die twaalfde gekeurde Italianer Jasmine Paolini (Jazz-mien Powlini), wat die Russiese tiener Mirra Andreeva, 6-3, 6-1 verslaan het.
# Ons sluit af met sokker: Engelse Premierligaklubs het gestem ten gunste van die behoud van die Video-hulpskeidsregter of VAR-stelsel volgende seisoen. Die BBC berig 19 van die afdeling se 20 klubs het gestem om die omstrede tegnologie te behou. Die BBC sê net Wolves, wat verlede maand die stemmery oor die skrapping van die stelsel aangevra het, het daarteen gestem. Die klub in die Middeland het die VRA beskuldig van die ondermyning van die Premierliga-handelsmerk na nog ‘n seisoen vol aanvegbare beslissings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….