Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Anrich Nortjé het vier paaltjies ingeoes en vir Suid-Afrika ‘n oorwinning help besorg in sy openingswedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika het Sri Lanka met ses paaltjies verslaan in New York. Sri Lanka is vir 77 uitgeboul, sy laagste T20-totaal, nadat hulle die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. Suid-Afrika het daarna die teiken bereik met 22 balle oor. Nortjé is aangewys as speler van die wedstryd:
Die owerhede in New York het intussen sekerheid opgeskerp by die tydelike stadion in Long Island waar Suid-Afrika en Sri Lanka gisteraand gespeel het. Polisie-skerpskutters is ontplooi om die stadion met 34-duisend sitplekke te beveilig om seker te maak wedstryde word sonder voorval gespeel. Die laaste wedstryd in die stadion, Sondag tussen die aartsvyande Indië en Pakistan, word beskou as die belangrikste groepskragmeting, met ‘n groep met bande met Islamitiese Staat wat dreig om die toernooi te teiken.
# Vervolgens, rugby: Die voormalige Springboklosskakel Curwin Bosch is op pad na Frankryk. Hy verlaat die Haaie om by die Franse ProD2-klub Brive aan te sluit nadat hy sedert 2016 in Durban gespeel het. Bosch se besluit is glo geneem nadat Siya Masuku hom as eerstekeuse nommer 10 vervang het, en omdat Jordan Hendrikse volgende seisoen van die Leeus af by die Haaie aansluit. Die 26-jarige Bosch het in 2017 drie toetse vir Suid-Afrika gespeel. Die Franse klub beskryf hom as ‘n speler met breë tegniese vermoëns.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy is bekommerd oor Sundowns-spelers se beserings. Die nasionale span speel Vrydag ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Nigerië in Uyo en volgende Dinsdag teen Zimbabwe. Ses spelers van Sundowns het gister met beserings vir die oefenkamp aangemeld. Broos het erken Sundowns se uitdagende skedule die vorige seisoen waar hulle in ses kompetisies 57 wedstryde moes speel, het sy tol geëis:
En laastens, nog sokker: Real Madrid het ‘n vyfjaarkontrak met die Franse voorspeler Kylian Mbappé onderteken met ʼn gratis oordrag van Paris Saint-Germain. Die 25-jarige speler het PSG 308 keer verteenwoordig en 256 doele aangeteken. Mbappé sê hy is gelukkig en tevrede om by die klub van sy drome aan te sluit. Madrid het Saterdag op Wembley met Borussia Dortmund afgereken en hul rekord tot ʼn 15de Kampioenskapsliga-titel verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….