Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, sê hy is trots op sy spelers se poging, al het ‘n indrukwekkende All Black-span hulle gisteraand in Durban 54-0 afgeransel. Die gashere, met ‘n paar jong spelers in die groep, het die wedstryd met ʼn aanvallende houding benader, al is dit nog vroeg in hulle voorseisoense veldtog. Pietersen erken sy span kon nie meeding met die besoekers se vaardighede nie:
Die All Black-legende, Ma’a Nonu, se alleen-man-antwoord op sy gewese spanmaats se haka maak intussen steeds opslae in die rugbywêreld. Die 44-jarige veteraan van 103 toetse het vir die Haaie gespeel. Almal op Kingspark, insluitend die spelers, het in verwondering gestaan toe Nonu die grootste teken van Maori-respek aan die teenstanders betoon het toe hy die besoekers se uitdaging namens die gashere aanvaar het. Die All Blacks het uiteindelik geseëvier, maar Nonu se antwoord sal waarskynlik onthou word eerder as die telling.
# Krieket: Die draaibouler Björn Fortuin sal die Proteas in die driehoekige T20-reeks in Namibië aanvoer, asook in ‘n eendagreeks. Suid-Afrika en sy mede-gashere vir volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi, Namibië en Zimbabwe, sal vanaf die 28ste in die hoofstad, Windhoek, speel, gevolg deur drie eendagwedstryde teen die gashere. Die broers van twee Proteas is gereed om ook hul buigings vir die nasionale span te maak – topbouler Marco Jansen se tweelingbroer, Duan, en Corbin Bosch se broer, Eathan. Afrigter Shukri Conrad wil die jonger spelers ook internasionale ervaring gee.
# Netbal: Kaapstad het ‘n naelskraapse oorwinning van 56-55 oor Tshwane behaal en die nasionale kampioenskapstitel ingepalm in Kaapstad. Sigi Burger het in die laaste oomblikke die wendoel aangeteken. Mangaung het ‘n spannende oorwinning van 45-44 oor Johannesburg behaal in die uitspeelstryd om derde plek. In die Onder 21-afdeling het die verdedigende kampioen, Johannesburg, Tshwane 52-38 verslaan. Kaapstad se kaptein, Sian Moore, is trots op haar span se veggees:
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina, het Naomi Osaka van Japan verslaan en is deur na die Kanadese Ope se halfeindronde in Toronto. Die Kazakstaniër kom teen Coco Gauff te staan nadat Belinda Bencic van Switserland weens ‘n heupbesering aan hulle kwarteindstryd onttrek het. In die ander halfeindstryd sal die Pool Iga Swiatek teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan kom. In Montreal het die verdedigende kampioen, Ben Shelton, die Tsjeg Jakub Mensik uitgeskakel, terwyl sy Amerikaanse landgenoot Learner Tien die Spanjaard Daniel Merida verslaan het om ook die halfeindronde te haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….