Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Nog ‘n aksiebelaaide naweek is op hande in die Verenigde Rugby-kampioenskap met tuis-halfeindstryde en uitspeelplekke op die spel. Vanaand om 25 voor nege is die eerste plaaslike span in aksie wanneer die Haaie die Scarlets in Wallis pak. Die Bulle, tans vierde op die punteleer, kan ‘n taai kragmeting verwag wanneer hulle môremiddag drie-uur op Loftus teen die Ospreys uitdraf. Die Leeus kom om vyfuur in Johannesburg teen Munster te staan, wat derde is. Die Stormers, in die sesde plek, het ‘n oorwinning nodig teen die top-span Leinster in Kaapstad. Afskoptyd is seweuur.
# Sokker: Die punteverskil tussen die heersende Premierliga-kampioen, Manchester City, en die voorlopers, Arsenal, is slegs een punt met nog een wedstryd oor vir Manchester nadat hulle Brighton in die Amex-stadion met vier-nul geklop het. Doele deur Kevin de Bruyne en Julian Alvarez en twee deur Phil Foden het die sege verseker. Manchester het nou 30 wedstryde agtereenvolgens gewen. Die bestuurder, Pep Guardiola, sê hy weet die wedloop is nog nie verby nie:
# Motorsport: Red Bull se hoof van ontwerp, Adrian Newey, gaan volgens berigte ná bykans twee dekades die Formule Een-span verlaat. Die 65-jarige Newey is ongemaklik oor die bewerings van seksuele teistering deur ‘n vroulike werknemer teen die spanbaas, Christian Horner. Horner is in ‘n interne ondersoek onskuldig bevind. Newey was in die beheer van die ontwerp van die motors wat ál 13 van Red Bull se wêreldtitels verower het.
# Gholf: Rosie Davies van Engeland en Elena Moosmann van Switserland is op ses onder baansyfer 66 die gesamentlike voorlopers ná die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Vroue-Ope in Kaapstad. Julie Boysen Hillestad van Noorweë is derde op vyf onder. Die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace is op vier onder in haar poging om ‘n rekord sesde titel te buit. Davies sê sy is tevrede met haar spel van die afgelope tyd:
#En ons sluit af met nóg gholfnuus :Die major-kampioen Tiger Woods se 15-jarige seun, Charlie, het ‘n rondte van 81 houe gespeel en kan nie meer vir die Amerikaanse Ope kwalifiseer nie. Woods junior was onder 84 spelers wat vir die plaaslike kwalifiseringstoernooi in Florida ingeskryf het. Die topvyf gaan deur na die 36-putjie-kwalifiseerder in Junie. Hy was een van tien-duisend-84 gholfspelers wat aan plaaslike kwalifiseringstoernooie deelneem vir een van die 80 plekke om in Junie aan die Amerikaanse Ope by Pinehurst deel te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….