Nuus 12:00
BULLETIN 11 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Basiese Onderwys-komitee versoek ‘n deeglike uiteensetting van uitstaande BELA-beleidsoorsigte
# COSATU sê die salarisverhogings vir openbare verteenwoordigers is “toondoof”
# En rugby: Nog beseringsprobleme vir die Blitsbokke voor die nuwe seisoen
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het ‘n volledige lys aangevra van skole wat nog nie ʼn oorsig van hul toelatings- en taalbeleide voltooi het nie, asook die redes daarvoor. Dit hou verband met die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Voorsitter Joy Maimela sê die departement het die komitee ingelig daar is vordering, maar ook probleme met die instelling. Sy sê dit sluit tekortkominge in wat befondsing, infrastruktuur en provinsiale departemente se vermoë betref:
# Die vakverbond COSATU kritiseer president Cyril Ramaphosa se goedkeuring van salarisverhogings vir openbare verteenwoordigers en noem dit “toondoof” en “skaamteloos”. Lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag, die Nasionale Vergadering en permanente afgevaardigdes in die Nasionale Raad van Provinsies sal ʼn verhoging van 3,5-persent ontvang. Regters en landdroste in die Konstitusionele Hof en ander howe ontvang ʼn vier-persent-verhoging. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê hulle ondersteun die aanpassing vir landdroste, want hulle is ʼn opgeleide professionele groep wie se behoud belangrik is:
# Die Suid-Afrikaanse regering het ‘n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen ‘n Malawiese hofbeslissing wat die uitlewering van die profeet Shepherd Bushiri en sy vrou Mary, na Suid-Afrika gestop het. Die Hooggeregshof in Malawi het verlede maand ‘n bevel wat die weg baan vir die uitlewering tersyde gestel. Die regering voer in hofstukke aan die regter het dokumentêre getuienis verkeerdelik verwerp en versuim om te beoordeel of daar genoeg bewysstukke is om ‘n verhoor in Suid-Afrika te regverdig. Die egpaar staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery.
# Federale aanklaers in Amerika het drie Irans-ondersteunde agente van terrorisme-verwante oortredings aangekla. Hulle was na bewering betrokke by byna 20 aanvalle in Europa en Amerika, asook ʼn terreur-komplot teen die Lugmagbasis Fairford in Brittanje in September. Die mans is geïdentifiseer as Mohammad Baqer Saad Dawood al-Saadi, wat dubbele Irans/Irakse burgerskap het, die Iranse burger Mohsen Mohajeri en die Irakse burger Mohammad Ali al-Hassani. Die FBI se direkteur, Kash Patel, sê die agt aanklagte toon Iran se vasberadenheid om terreuraanvalle in Europa en Amerika uit te voer.
# Rugby: Die Blitsbokke het nog beseringsprobleme voor die nuwe seisoen. Die spelskepper Shilton van Wyk en kaptein Impi Visser is nou ook op die krukkelys nadat die voorspelers, Zander Reynders en Jayden Nel, vroeër beseer is. Afrigter Philip Snyman sê Visser kan dalk reg wees vir die eerste toernooi in Dubai later die maand. Hy beplan om diepte te bou in die eerste ses toernooie en in die laaste drie Olimpiese kwalifisering te bekom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-865-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-59-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….