Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Stormers se afrigter, John Dobson, verwag ‘n groot stylbotsing in vanaand se wedstryd teen die All Blacks in Kaapstad. Hy sê sy span se deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskap beteken hulle het nog nie voorheen ‘n kenmerkende speelstyl soos dié van die All Blacks teëgekom het nie. Dobson dink egter die Stormers se beste kans sal wees om met hul fisieke spel die besoekers uit hul gemaksone te dwing:
Springbok-afrigter Rassie Erasmus het intussen tweedekeuse-spelers verseker hulle is steeds deel van sy planne voor die Rugby’s Greatest Rivalry-toetsreeks teen Nieu-Seeland. Hy sê môre se toets teen Argentinië gaan daaroor om momentum te bou, prestasie te verbeter en terugkerende spelers waardevolle wedstryd-tyd te gee na beserings. Erasmus sê tweedekeuse-spelers hoef hulself nie te bewys nie, en rotering is van die uiterste belang tydens die reeks van vier toetse. Hy het ook vertroue in kaptein Siya Kolisie se fiksheid.
# Atletiek: Die sestienjarige gewigstoter Jaco van Dyk het Suid-Afrika se eerste medalje ingepalm op die Onder-20-Wêreldatletiek-kampioenskap in Oregon, Amerika. Hy het brons gewen in ‘n nuwe persoonlike beste prestasie met ‘n reuse-gooi van 19.80-meter. Marko Ferreira het brons verower in ‘n tyd van 10,16-sekondes in die mans-100-meter. Kryn Romijn en Leendert Koekemoer het gekwalifiseer vir die mans-400-meter-eindronde. Werner Gouws en Emil Els is deur na die halfeindronde van die mans-800 meter en Jan-Hendrik Heymans het gekwalifiseer vir die eindronde van die spiesgooi vir mans.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê meer as 100-miljoen-rand van sy Wêreldbekerprysgeld van 218-miljoen-rand gaan in sokkerontwikkeling en administrasie belê word. Die voorsitter van die Finansiële Komitee, Mxolisi Sibam, sê die besluit weerspieël spelers se wense om die sport op grondvlak te versterk om toekomstige nasionale sterre te ontwikkel. Plaaslike Premierliga-klubs sal ook baat, met Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates wat elk meer as 25-miljoen-rand sal ontvang vir spelers wat deel was van Bafana Bafana se groep. Vyf-en-sestig-miljoen-rand word toegeken vir spelerbonusse en betalings vir afrigtingspersoneel.
Nog sokkernuus: Die Europese beheerliggaam, UEFA, beplan steeds om FIFA-kompetisies te boikot, ondanks president Gianni Infantino se verskoning oor sy afgestelde planne om Wêreldbeker-aandele aan privaat beleggers te verkoop. UEFA sê lidlande was duidelik oor die voorwaardes vir deelname aan FIFA-kompetisies, en nie almal is nagekom nie. Die boikot plaas Europese spanne se deelname aan die Onder 20-Wêreldbekertoernooi vir Vroue in Pole in September in die weegskaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….