Nuus 13:00
BULLETIN 7 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa proklameer die datum vir die plaaslike regeringsverkiesing
# ‘n Thaise tiener skiet agt mense dood, insluitend sy grootouers
# En atletiek: Span SA verower sy eerste twee bronsmedaljes op die Onder-20-kampioenskap
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het 4 November amptelik geproklameer in die Staatskoerant as die datum vir die plaaslike regeringsverkiesing. Hy het met die SABC gepraat en burgers versoek om te registreer voor die kieserslys om middernag sluit. Hlabisa moedig gemeenskappe aan om die stembus te gebruik om raadslede aanspreeklik te hou, aangesien dit beter dienslewering kan afdwing en plaaslike demokrasie kan versterk:
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê die regering het sedert 1994 aansienlik vordering gemaak wat die regte en verteenwoordiging van vroue in leierskapstrukture betref. Vroue maak 43,5-persent van parlementslede uit en beklee senior posisies in die regering, die Parlement en op die regbank. Suid-Afrika vier vanjaar die 70ste herdenking van die Vroue-optog. Morolong sê ondanks hierdie vooruitgang beleef vroue steeds uitdagings:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het die departement se verbintenis tot beter maatskaplike dienslewering herbevestig na ‘n reeks onaangekondigde oorsigbesoeke aan kantore van die maatskaplike sekerheidsagentskap, SASSA. Sy het verbeterings in die bestuur van rye en die skeiding van dienspunte volgens behoeftes verwelkom. Pule sê die maatreëls het doeltreffendheid verbeter, wagtye verkort en beter diens gelewer. Sy beklemtoon hoewel uitdagings nog bestaan, sal oorsig voortgaan en kommunikasie verbeter om te verseker maatskaplike toelaes bereik die regte begunstigdes op ‘n regverdige, deursigtige en doeltreffende manier.
Nuus uit die buiteland:
# n Veertienjarige seun het vanoggend agt mense in Thailand doodgeskiet en minstens 22 gewond. Volgens owerhede het die tiener eers sy grootouers doodgeskiet in sy huis aan die buitewyke van Bangkok. Hy is daarna na sy skool, die Debsirin Nonthaburi School, waar hy drie onderwysers en drie kinders doodgeskiet het. Die seun het homself toe geskiet en op pad hospitaal toe gesterf. Thailand se Sentrale Ondersoekburo sê ‘n handwapen en meer as 60 rondes ammunisie is in die skool gevind.
# Atletiek: Die sestienjarige gewigstoter Jaco van Dyk het Suid-Afrika se eerste medalje ingepalm op die Onder-20-Wêreldatletiek-kampioenskap in Oregon, Amerika. Hy het brons gewen in ‘n nuwe persoonlike beste prestasie met ‘n reuse-gooi van 19.80-meter. Marko Ferreira het brons verower in ‘n tyd van 10,16-sekondes in die mans-100-meter. Kryn Romijn en Leendert Koekemoer het gekwalifiseer vir die mans-400-meter-eindronde. Werner Gouws en Emil Els is deur na die halfeindronde van die mans-800 meter en Jan-Hendrik Heymans het gekwalifiseer vir die eindronde van die spiesgooi vir mans.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-763-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-307-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….