Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, speel vanaand in Marokko teen Nigerië in die halfeindronde van die Afrikabeker-vrouetoernooi. Suid-Afrika het vroeër vir Ghana, Tanzanië en Mali geklop voordat hulle Senegal in die kwarteindronde met doelskoppe verslaan het om ‘n plek te bespreek in die voorlaaste ronde. Hoofafrigter Desiree Ellis beskryf haar span as veerkragtig en dapper, met ‘n veg-tot-die-dood-toe-houding. Die gasvroue en Ghana speel in die ander halfeindstryd en die eindstryd word Saterdag beslis.
# Krieket: Suid-Afrika en Nieu-Seeland kom vandag teen mekaar te staan in Harare, Zimbabwe, voordat hulle Saterdag op dieselfde veld teen mekaar speel in die eindstryd van die driehoekige T20-reeks. Die gasheer is reeds uitgeskakel nadat hulle vroeër twee keer teen die Proteas verloor het, en een keer teen die Swartpette. Nieu-Seeland het Suid-Afrika vroeër in die toernooi met 21-lopies geklop. Die laaste rondomtalie-wedstyd is Donderdag tussen Zimbabwe en Nieu-Seeland.
Engeland het intussen die draaibouler Liam Dawson opgeroep vir die vierde toets teen Indië as plaasvervanger vir die beseerde Shoaib Bashir. Dit sal die 35-jarige se eerste toets sedert Julie 2017 wees. Jofra Archer is ook in die span na die oorwinning op Lord’s, terwyl Brydon Carse, Chris Woakes en kaptein Ben Stokes nog meer naatkeuses sal bied. Engeland loop 2-1 voor in die reeks voor die vierde toets môre op Old Trafford in Manchester begin.
# Rugby: ‘n Reuse-uitdaging wag op die nuutaangestelde hoofafrigter van Wallis, Steve Tandy. Die span het pas ’n reeks van 18 opeenvolgende nederlae beëindig toe hulle Japan geklop het en die voormalige Walliese speler het ‘n reuse-taak wat voorlê om sy span voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi oor twee jaar. Tandy vervang Warren Gatland as permanente hoofafrigter nadat die Nie-Seelander gedwing is om uit te tree gedurende vanjaar se Sesnasies-kompetisie. Tandy se eerste wedstryd in beheer is op 9 November in Cardiff teen Argentinië.
# En tennis: Die Kanadese Ope in Toronto sal sonder ‘n paar groot name moet voortgaan nadat Jannik Sinner, Carlos Alcaraz en Novak Djokovic onttrek het. Sinner, die wêreld-nommer-een wat vroeër die maand op Wimbledon geseëvier het, sê hy moet voorkeur gee aan sy gesondheid. Alcaraz, met ʼn rekord van 48 oorwinnings teenoor ses nederlae hierdie seisoen, sê hy het spierprobleme en moet fisies en geestelik herstel vir wat voorlê. Die viermalige kampioen, Djokovic, het nog altyd gesê hy fokus op Grand Slams.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….