Nuus 15:00
BULLETIN 22 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie-kommissaris sê hulle soek aktief na verdagtes in die Westbury-skietvoorval
# Agt hoërskool-leerders van Milnerton in Kaapstad word geskors ná ‘n boelie-voorval
# En rugby: Louis Rees-Zammit keer terug na Wallis se toetsgroep
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die Gautengse polisie is aktief besig om by verskeie plekke van belang te soek na verdagtes wat in die Westbury-skietvoorval betrokke was. Masemola het die Sophiatown-polisiestasie besoek om die jongste inligting te kry oor die inhegtenisneming van vier tienerseuns wat na bewering vir die massaskietery verantwoordelik is. Die kommissaris sê vyf oorlewendes veg steeds vir hul lewens in die hospitaal, en die twee oorlede slagoffers, is geïdentifiseer as Tigan du Plessis en Diegan Ryters:
# Agt leerders van Milnerton High School in Kaapstad is geskors ná ‘n boelie-voorval verlede week. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die besluit verseker ‘n regverdige dissiplinêre proses en gee voorkeur aan leerders se veiligheid. Berading en psigo-maatskaplike ondersteuning word verskaf. Woordvoerder Bronagh Hammond het die publiek versoek om nie die video van die voorval te deel nie, en beklemtoon dit vererger die slagoffer se trauma en skend die regte van die betrokke leerders:
# Statistieke Suid-Afrika sê die jaarlikse verbruikersinflasie het in September effens gestyg tot 3,4-persent teenoor 3,3-persent in Augustus. Die toename is hoofsaaklik die gevolg van hoër pryse vir vervoer, restaurante en verblyf, terwyl inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies effens gedaal het. Vleispryse het tot hul hoogste vlak sedert 2018 gestyg, met bees-stowevleis wat op ‘n jaargrondslag met 32-persent gestyg het. Ricado Johnson van Statistieke SA sê melk en eiers is egter goedkoper, met eiers wat met meer as agt-persent gedaal het:
Nuus uit die buiteland:
# Menseregtekenners van die Verenigde Nasies waarsku dat Amerika se geheime optrede en dreigemente om gewapende mag teen Caracas te gebruik, Venezuela se soewereiniteit en die VN-handves skend. Die Amerikaanse president, Donald Trump, voer ‘n militêre veldtog wat volgens hom daarop gemik is om die vloei van dwelms uit Latyns-Amerika na sy land te smoor. Amerikaanse aanvalle het sedert September minstens ses vaartuie in die Karibiese Eilande geteiken, meestal snelbote, maar Washington kon nie bewyse lewer dat die 27 mense wat tot dusver dood is, dwelmsmokkelaars was nie.
# Rugby: Die vleuel Louis Rees-Zammit sal waarskynlik die eerste keer in twee jaar vir Wallis speel nadat hy in die groep ingesluit is vir November se toetse. Dit volg na sy terugkeer na rugbyunie na ‘n onsuksesvolle tyd by Amerikaanse voetbal. Die 24-jarige het in Augustus ‘n kontrak met Bristol Bears onderteken. Wallis se nuwe afrigter, Steve Tandy, het ook Saracens se stut, Rhys Carre, en Cardiff se losskakel, Callum Sheedy, herroep. Die Drake speel op 9 November teen Argentinië, gevolg deur toetse teen Japan, die All Blacks en die Springbokke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-27-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….