Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, het voor die Khampepe-kommissie getuig dat hy aangebied het om polisiegeneraals en politici wat opdragte vir apartheidsmoorde gegee het aan die kaak te stel. Hy sê die Nasionale Vervolgingsgesag het egter nooit belanggestel om met hom te praat nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig studente van die EFF aan die Universiteit van Johannesburg het die eksamen ontwrig en skade aan die geboue aangerig in hul betoging teen verhoogde klasgelde vir 2027.
En tweedens skryf die webblad Japannese aanklaers het ‘n Amerikaanse seesoldaat, die 20-jarige Devon Jacob Ballard, aangekla van die moord op die 39-jarige Anna Jagi in ‘n hotel vroeër die maand.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die geskorste hooflanddros van Pretoria, Desmond Nair, het onskuldig gepleit op aanklagte van korrupsie wat verband hou met beweerde sekuriteitsopgraderings ter waarde van ongeveer 200-duisend-rand by sy huis. Die voormalige maatskappy BOSASA het na bewering vir die opgraderings betaal en dit sluit in ’n elektriese heining, ’n alarmstelsel, omheiningsensors en kringtelevisiekameras.
# Sowetan:
Berig Eugene de Kock het oudpresident FW de Klerk regstreeks betrek by die dood van vyf kinders en ‘n beroep op die Khampepe-kommissie gedoen dat De Klerk se Nobelprys vir Vrede gekanselleer moet word.
# En The Citizen:
Skryf die ANC se finansiële probleme haal die party in. ‘n Diensverskaffer dreig om op die party se OVK-begunstiging beslag te lê om uitstaande skuld van sowat 40-miljoen-rand te delg.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die voortdurende probleme by die Westelike Provinsie Rugbyunie. Die unie is nou net 21 dae gegun om sy skuld van 110-miljoen-rand aan Dream World te vereffen.
En tweedens skryf die koerant die reën wat die afgelope dae in die Wes-Kaap uitgesak het, het nie ‘n uitwerking op die provinsie se damvlakke gehad nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Het gaan ondersoek instel na die openbare swembaddens in Nelson Mandelabaai en berig dit is in ‘n haglike toestand. Die koerant publiseer ook foto’s van die onderskeie swembaddens.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor Eugene de Kock se onthulling voor die Khampepe-komissie en berig aansoekers begin toestroom om die nuwe identiteitskaart te kry.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kantoor van die arbeidskommissaris het ses kennisgewings van voorgenome afleggings van ses verskillende werkgewers in verband met die uitbreking van bek-en-klouseer ontvang met byna 600 werkers wat hul werk kan verloor.
En tweedens skryf die koerant die ondersoek na die noodlottige girokopterongeluk op 19 September waarin die legendariese renosterbewaarder, die 53-jarige Jaco Muller, dood is duur nog voort. Dit is wel bevestig hy het oor ’n geldige Namibiese vlieënierslisensie vir girokopters beskik.