Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering is daartoe verbind om die land se spoornetwerk te herstel, private belegging te lok en wette te hervorm. Sy sê private operateurs sal toegelaat word om geleenthede vir mynbou, landbou en toerisme te ondersoek.
# Mail & Guardian:
Bied vandag ‘n spesiale verslag aan oor ‘n sindikaat wat hospitaaltoerusting plunder en gesondheidsdienste lamlê.
En tweedens skryf die koerant oor optrede teen gevaarlike gewigsverliesmiddels wat die land instroom.
# Die Papier:
Berig oor die swartmark in brandstofverkope in Suid-Afrika wat reeds miljarde rand sterk is en steeds groei. Dit sluit in die smokkel van brandstof oor die grens en die vermenging van diesel en paraffien.
Tweedens skryf die koerant, die minister van Landbou, Willie Aucamp, het sterk standpunt ingeneem teen die lied; “Kill the boer, kill te farmer”. Hy sê jy vra nie dat ‘n ander doodgemaak moet word nie.
En laastens word berig die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, sê dis die inwoners van die stad se laaste kans om Johannesburg te red.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig politieke partye het die Konstitusionele Hof se beslissing om die ANC se 181 kandidate toe te laat as vreemd, problematies en teleurstellend bestempel. Hulle sê die uitspraak laat die ANC toe om ondanks administratiewe mislukkings en interne konflik steeds aan die verkiesing deel te neem.
En tweedens skryf die webblad die VSA gaan volgens berigte ‘n advertensieveldtog in Suid-Afrika van stapel stuur om uit te vind hoekom so min wit Afrikaners in vlugtelingstatus belangstel.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Stad Tshwane ondersoek tussen 140 en 160 aangemelde gevalle van diarree en ander gastroïntestinale siektes in Bronkhorstspruit en die omliggende gebiede, terwyl owerhede probeer om die oorsaak van die uitbreking vas te stel. Die koerant berig Tshwane sê ‘n siekte wat deur water oorgedra word, kan een van die moontlike oorsake wees. Ondersoeke is egter nog aan die gang.
# Sowetan:
Berig City Power in Johannesburg verloor die stryd teen georganiseerde gewapende sindikate wat in tonnels onder die stad die elektriese infrastruktuur steel. Intussen skryf die koerant daar was vanjaar reeds 13 brande by elektriese substasies in die stad.
# En The Citizen:
Skryf daar is ‘n politieke plakkaatoorlog op straat aan die gang, maar volgens kenners het plakkate met nasionale leiers se foto’s op min uitwerking – dis die plaaslike kwessies wat saak maak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die ANC se oorwinning in die Konstitusionele Hof.
En tweedens skryf die koerant ‘n bekende Suid-Kaapse sakevrou, Daréne van der Merwe, is dood toe sy by haar ouers in Gouritsmond, Hans en Magda Langenhoven, verstik het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die tegnieke wat ontvoeringsindikate gebruik om hul slagoffers uit te lok en op te stel vir ontvoering. Daar is ook besonderhede oor die gewapende geweld wat gebruik word, die eis van lospryse en die doodsdreigemente wat volg.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die ANC se hofoorwinning en berig oor ‘n projek om beleggers na KwaZulu-Natal te lok.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig boere langs die Oranjerivier is onseker oor die toegang tot sekere dele van hul grond, terwyl die oprigting van die veterinêre kordonheining van 122-miljoen-rand teen bek-en-klouseer reeds begin het.
En tweedens skryf die koerant die minister van Myne, Energie en Nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, het gewaarsku dat goedgekeurde kragtariewe buite die bereik van gewone Namibiërs kan bly.