Nuus 06:00
BULLETIN 16 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie begin om stembriewe te wysig en te herdruk
# AgriSA stel ‘n nuwe mandaat om landboubeleid prakties toe te pas
# En Donald Trump skrap die regstreekse uitsending van die Fort Hood-teregstelling
# Die Verkiesingskommissie sê hy sal nou begin om stembriewe te wysig en te herdruk ten einde 181 ANC-kandidate in ses munisipaliteite in te sluit. Dit volg op die Konstitusionele Hof se uitspraak ten gunste van die ANC in ‘n geskil oor kandidate wat uitgesluit is van volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing. Die kommissie het vroeër die week gesê 66-persent van die stembriewe is reeds gedruk. Die voorsitter van die OVK, Mosotho Moepya, sê hulle het beperkte tyd om aan die uitspraak te voldoen:
Intussen sê die onafhanklike verkiesingsontleder, Michael Atkins, verkiesingsreëls moet duideliker wees, na die Konstitusionele Hof se uitspraak. Atkins sê die uitspraak beklemtoon die behoefte aan duideliker regulasies om soortgelyke geskille in toekomstige verkiesings te voorkom:
# AgriSA sê sterker vennootskappe, verantwoordbaarheid en doeltreffende inwerkingstelling is nodig om die landbousektor te laat groei. Dit volg op die 2026-kongres, waar hy vyf prioriteite gestel het: grondhervorming, natuurlike hulpbronne, arbeid, landelike veiligheid, ekonomie en handel. AgriSA se president, Willem de Chavonnes Vrugt, sê grondhervorming moet boere help om suksesvolle ondernemings te bou, terwyl waterinfrastruktuur, landelike paaie, spoorweë en hawens ook aandag benodig. Hy het bygevoeg die fokus moet nou verskuif van beplanning na uitvoering.
# Twee ANC-raadslede is doodgeskiet terwyl hulle in Umgababa, aan die suidkus van Durban, ‘n deur-tot-deur-veldtog gevoer het. Drie ander mense is gewond en is in die hospitaal. Die polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, Robert Netshiunda, sê voorlopige verslae dui daarop dat twee vroue en ‘n man, saam met hul lyfwagte, besig was met veldtogwerk toe ‘n wit Isuzu-bakkie hulle genader het. Die insittendes van die bakkie het op die vyf persone losgebrand. Die speaker van die eThekwini-raad, Thabani Nyawose, sê hulle is geskok oor die tragedie:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het planne laat vaar om die teregstelling van Nidal Hasan regstreeks aanlyn uit te saai. Hasan het in 2009 dertien mense by die Fort Hood-militêre basis in Texas vermoor. Die voormalige psigiater in die weermag, sal na verwagting op 3 Desember deur ‘n vuurpeloton tereggestel word. Die minister van Verdediging, Pete Hegseth, het aangekondig die publiek sal die teregstelling aanlyn kon sien, wat tot wydverspreide kritiek gelei het. Trump sê die teregstelling sal voortgaan, maar nie uitgesaai word nie. Naasbestaandes van die slagoffers sal toegelaat word om dit persoonlik by te woon.
# Rugby: Die Junior Springbok-ster Luan Giliomee begin sy loopbaan by die Bulle in die nommer 15-trui in môre se Kampioenebeker-wedstryd teen Stade Francais op Loftus. Hy vervang die Bok-veteraan Willie le Roux, wat na die bank skuif. Die 20-jarige Giliomee het onlangs na Pretoria verhuis na hy sy termyn by die Haaie voltooi het. Hy is deel van die agterlyn saam met die vleuels Cheswill Jooste en Sebastian de Klerk. Die hoofafrigter, Johan Ackermann, het tien veranderinge aan die groep gemaak wat verlede week teen die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskap geseëvier het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-374-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 107-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….