Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor Standard Bank se sukses in Afrika. Die bank se verdienste uit sy Afrika-bedrywighede het met 49-persent gestyg. Dit is in vergeleke met Absa se een-persent, FirstRand se ses-persent en Nedbank se 11-persent.
# En, Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “DURBAN IS DYING”. Die koerant skryf oor die staking wat die stad lamgelê het, die burgemeester wat nie ingryp nie en die munisipaliteit wat feitlik geen dienste lewer nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Stad Tshwane se finansiële posisie het verbeter nadat dit vanjaar ‘n gekwalifiseerde ouditverslag ontvang het in vegelyking met die negatiewe verslag verlede jaar.
En tweedens skryf die koerant troues en egskeidings het die afgelope jaar in Suid-Afrika toegeneem. Volgens Statistieke Suid-Afrika is daar meer as 111-duisend huwelike en meer as 20-duisend egskeidings aangemeld.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor die hofaansoek van die reeksverkragter Thabo Bester en sy medebeskuldigde Nandipha Magudumana om Showmax te keer om die dokumentêre program, Tracking Thabo Bester, uit te saai.
En tweedens word berig oor die OVK se waarskuwing oor dreigemente wat deel uitmaak van verkiesingsveldtogte.
# Sowetan:
Berig die getuienis van twee van die beskuldigdes in die Senzo Meyiwa-moordsaak is deur die hof aanvaar en dit beteken dat die hof wel die moontlikheid sal oorweeg dat die moord in opdrag van die sangeres Kelly Khumalo gepleeg is.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening die twee-duisend-500 megawatt kernkrag wat teen 2035 opgewek sal word, sal in daardie stadium geen uitwerking op die land se kragsituasie hê nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die ramphulp waarvoor aansoek gedoen is ná wydverspreide veldbrande in die Vrystaat in 2023 is afgekeur. Vrystaat Landbou sê dis ‘n groot terugslag vir die bedryf wat sowat 44-miljoen-rand sou ontvang.
En tweedens skryf die koerant oor die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem se atletiekprestasie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met oudpresident Thabo Mbeki se aanval op oudpresident Jacob Zuma. Mbeki sê Zuma het alles in sy vermoë gedoen om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te vernietig.
Dan word berig ‘n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 61-jarige Estelle Eksteen van Langebaan.
En laastens is daar nuus oor die internetprobleme wat gister ondervind is. Die probleme met ondersese kabels het ‘n paar lande geraak maar die grootste uitwerking gehad in Suid-Afrika en Brittanje.
# En Cape Times:
Skryf die Universiteit van Kaapstad is gekant teen ‘n boikot teen Israel.
En berig ‘n voormalige direkteur-generaal van Openbare Ondernemings praat oor die mislukte Takatso-transaksie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk se plan om die voormalige bedryfshoof Mandla George as stadbestuurder aan te stel, is deur die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering, Zolile Williams, gekeer.
En tweedens skryf die koerant altesaam 348 brande is binne die bestek van 13 dae in Nelson Mandelabaai aangemeld. Dit plaas geweldige druk op brandbestryders wat swak toegerus is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is geen waarheid in uitsprake dat die munisipaliteit sy dienslewering in die stad hervat nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die organisasie, Droogtehulp Namibië sê vanjaar se droogte is erger as in 2019 en op die oomblik lyk reënvooruitsigte nie belowend nie.
En tweedens skryf die koerant ’n Kripto-belegger en sy vrou het in die hof verskyn nadat hulle beleggers na bewering uit sowat 160-miljoen-rand bedrieg het.