Nuus 06:00
BULLETIN 2 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra opvoeders se hulp om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp
# Eskom skort registrasiefooie vir sonkragstelsels tot verdere kennisgewing op
# En die Departement van Korrektiewe Diense in Tennessee verdedig die ‘mislukte’ teregstelling van Christa Pike
# President Cyril Ramaphosa het opvoeders en die breër onderwysgemeenskap gevra om te help teen geslagsgeweld en vrouemoord, en gesê skole het ‘n rol om te speel om geweld te voorkom voordat dit plaasvind. Hy het gister ’n toespraak gelewer by die 26ste Nasionale Onderwystoekennings in Ekurhuleni. Ramaphosa sê skole moenie seksuele teistering, mishandeling of uitbuiting deur onderwysers, personeellede of mede-leerders duld nie. Hy sê onderwys moet help om geweld te voorkom voordat dit plaasvind:
Die regering sê intussen sy vierpunt-herstelplan sal die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord versterk. Die plan is daarop gemik om polisiëring, ondersoeke, forensiese werk en vervolgings te verbeter, en sal fokus op onopgeloste moorde, verkragtings en ernstige seksuele misdrywe waarby vroue en kinders betrokke is. Mans en seuns word ook aangemoedig om standpunt in te neem teen geweld en skadelike gedrag. Die adjunkregeringswoordvoerder, William Baloyi, het gemeenskappe aangemoedig om met die polisie saam te werk, misdaad aan te meld en oorlewendes te ondersteun:
# Eskom het sy kwytskelding verleng van registrasieverwante koste vir sonkragstelsels van tot 50 kVA in besit van kwalifiserende klante. Die kwytskelding is van toepassing op klante wat regstreeks deur Eskom voorsien word, wat hulle meer tyd gee om netwerkgekoppelde dakstelsels te registreer sonder om die nutsmaatskappy se registrasiefooie te betaal. Eskom sê registrasie bly verpligtend vir kwalifiserende stelsels en is bedoel om die veilige integrasie van sonkrag in die elektrisiteitsnetwerk te ondersteun. Kliënte wat deur munisipaliteite voorsien word, moet eerder hul plaaslike owerheid se vereistes volg.
# Die DA in Limpopo het ‘n klag by die Verkiesingskommissie ingedien en die ANC daarvan beskuldig dat hy ‘n amptelike regeringsgeleentheid vir partypolitieke doeleindes gebruik het. Volgens die party was premier Phophi Ramathuba, Dinsdag by ‘n amptelike huisoorhandiging in Modimolle-Mookgophong, maar foto’s toon haar saam met ANC-ampsdraers in ANC-kleure. Jacques Smalle van die DA sê hulle gaan Ramathuba by die provinsie se etiekkomitee aangee:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste in Tennessee het sy optrede verdedig nadat beamptes Woensdagaand nie daarin kon slaag om Christa Pike tereg te stel nie. Gevangenisbeamptes het twee dodelike dosisse pentobarbital aan Pike toegedien, maar sy het dit oorleef en is na die hospitaal geneem. Die 50-jarige is in 1996 ter dood veroordeel vir die moord op Colleen Slemmer. Die departement sê hy het elke stap van die staat se wettige, gevestigde teregstellingsprotokol, wat deur die kantoor van die prokureur-generaal goedgekeur is, gevolg. Tennessee se goewerneur, Bill Lee, het die enigste oorblywende teregstelling vir die res van die jaar opskort.
# Rugby: Springbok-kaptein Siya Kolisi sal vanaand vir die eerste keer in vyf jaar vir die Stormers uitdraf wanneer hulle in Skotland teen Edinburgh in die Verenigde Rugbykampioenskap te staan kom. Hy sal as oopkantflank begin, met Louw Nel wat na die kortkant skuif, terwyl Riley Norton in die tweede ry speel. Die enigste ander verandering aan die voorspelersgroep is Ntuthuko Mchunu in die voorry. Stefan Ungerer en Yaqeen Ahmed vorm die skakelpaar. Wandile Mlaba is die nuwe gesig op die bank en sal as losvoorspeler dekking bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-682-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….