Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die beleërde Habib Overseas Bank is gelikwideer ‘n jaar nadat die Nasionale Tesourie dit onder kuratorskap geplaas het oor die beweerde oortreding van valutabeheerreëls en geldwassery.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Randburgse waterkrisis is skynbaar opgelos nadat ‘n klep wat Rand Water verkeerdelik toegedraai het, oopgemaak is.
Tweedens skryf die koerant die beamptes by die Sebokeng-polisiekantoor naby Vanderbijlpark wil staak omdat daar niks aan die slangplaag by hul kantoor gedoen word nie.
En laastens word berig die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer, Eric Carmen is op 74 oorlede.
# The Star en Pretoria News:
Skryf altesaam 80 ANC-parlementslede keer nie na die verkiesing terug na die Parlement nie.
En berig ook oor die oplossing van Randburg se waterprobleem.
# Sowetan:
Berig oor die tien aanklagte van beweerde verkragting, onsedelike aanranding en regsverydeling teen die omstrede biskop van die Rivers of Living Waters Ministries, Bafana Zondo. Hy het na bewering vroue verkrag en onsedelik aangerand onder die voorwendsel dat hy vir hulle wil bid.
# En The Citizen:
Skryf die polisie se besluit dat slegs oorspronklike voertuighandelaars hul voertuie kan herstel, gaan duisende werksgeleenthede in die privaat sektor in gevaar stel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Nasionale Vervolgingsgesag se stryd teen onwettige mynbedrywighede werp vrugte af. Sedert 23 Desember is meer as vier-duisend-500 onwettige immigrante betrokke by mynbedrywighede in hegtenis geneem.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n video op sosiale media van ‘n olifant-tenk wat van ‘n vragmotor afval by die Lohatlha-leërgevegskool in die Noord-Kaap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die nuus dat die 32-jarige ma van die vermiste Joslin Smith, Kelly Smith na bewering by die Pollsmoor-gevangenis deur haar medebeskuldigdes aangerand is. Die polisie sal na wat berig word vandag meer inligting bekend maak oor die bloedmonsters wat op klere gevind is.
Dan skryf die koerant ‘n vragmotorbestuurder is dood en nog 13 beseer toe twee vragmotors op die R27 tussen Atlantis en Melkbosstrand in ‘n ongeluk betrokke was.
En laastens word ook berig oor die slangplaag by Sebokeng.
# En Cape Times:
Skryf daar is steeds persone wat veroordeel is op die ANC se kandidatelys.
En berig adjunkpresident Paul Mashatile het in die Nasionale Raad van Provinsies verduidelik waarom Suid-Afrika nie die Israelse ambassades in die land gesluit het nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die aankondiging dat die Oos-Kaapse LUR vir Finansies, Mlungisi Mvoko nog 800-miljoen-rand uit die reserwefonds onttrek het om ‘n begrotingstekort te dek, het kommer laat ontstaan oor ‘n kontanttekort in die provinsie.
En tweedens skryf die koerant ‘n matriekleerder het sy lewe gewaag om verskeie pasiënte by die Life Mercantile-hospitaal te help om te ontsnap toe ‘n brand in hul saal uitgebreek het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf met die voortslepende staking van munisipale werkers in eThekwini het lede van die publiek ingespring om die strate op te ruim.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Gesondheid sê geen pasiënt is by die St. Mary’s Hospitaal op Rehoboth dood terwyl hulle op behandeling gewag het nie.
En tweedens skryf die koerant die regter in die Fishrot-verhoor het ’n onttrekkingsaansoek teen hom van die hand gewys en ontken dat hy partydig is.