Nuus 06:00
BULLETIN 30 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kondig ‘n vierpuntplan aan om geweld teen vroue aan te spreek
# Die VSA verbied invoere uit Kanada ter waarde van bykans 16,4-miljard-rand
# En krieket: Kagiso Rabada en Anrich Nortjé se fiksheid sal voor die toetswedstryde teen Australië bepaal word
# President Cyril Ramaphosa sê die geweld teen vroue in Suid-Afrika is ‘n bron van groot pyn en ‘n nasionale skande. Hy het gisteraand die nasie toegespreek en gesê wat die regering gaan doen om geslagsgeweld en vrouemoord in die land te stuit. Dit volg op die ontdekking van die liggame van elf vroue in en om Ekurhuleni in Gauteng oor die afgelope twee maande. Ramaphosa het ‘n plan met vier punte aangekondig, wat ‘n veiligheidsoudit in munisipaliteite en strenger optrede teen drankverkooppunte insluit:
Ramaphosa sê ook die land moet die ongemaklike, vernietigende waarheid in die gesig staar dat die vernaamste brandpunt vir geslagsgeweld in die huis en in interpersoonlike verhoudings lê. Volgens ’n nasionale studie deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad is ’n intieme lewensmaat verantwoordelik vir die dood van meer as 60-persent van die vroue wat in 2021 en 2022 vermoor is. Ramaphosa het gesê die verantwoordelikheid vir geweld lê altyd by die persoon wat dit pleeg, en nooit by die slagoffer nie:
# Die Mpumalanga-sakeman, Joe Sibanyoni het hom by die Madlanga-kommissie op sy reg beroep om homself nie te inkrimineer nie. Sibanyoni het geweier om vrae te beantwoord oor ‘n beweerde afpersingskema van twee-miljoen-rand wat met die sakeman Thomas Ntuli en die Molotoweg-projek verband hou. Hy beweer sy getuienis voor die kommissie kan sy hangende strafsaak in die Delmas-landdroshof benadeel, en hy het herhaaldelik op immuniteit aangedring. Die getuienisleier, Matthew Chaskalson, het sy weiering teengestaan en Sibanyoni herinner aan sy bewering dat hy geen misdaad gepleeg het nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra dringende optrede om kritieke personeeltekorte in KwaZulu-Natal se openbare gesondheidsorgstelsel aan te spreek. Volgens die vakbond is gekwalifiseerde dokters werkloos terwyl befondsde poste bevries of ongevul gelaat word, wat bykomende druk plaas op gesondheidsorgwerkers en pasiëntedienste beïnvloed. Zamani Dladla van die vereniging sê die provinsie moet vakante mediese poste dringend vul en voorkeur gee aan die aanstelling van gekwalifiseerde, werklose dokters.
# Die VSA het Kanadese invoere ter waarde van bykans 16,4-miljard-rand, insluitend alkoholiese drank, suiwelprodukte en motorfietse, verbied. Dit dien as vergelding vir Kanada se instelling van tariewe op ‘n reeks Amerikaanse goedere vroeër vandeesmaand, ná ‘n mislukking in handelsamesprekings. Ongeveer 93-persent van alle Kanadese drankuitvoere in 2025 was aan die VSA. President Donald Trump sê hy verwag Ottawa sal toegee in die handelsgeskil, terwyl Kanadese amptenare sê hulle sal nie ‘n ooreenkoms onderteken wat nadelig is nie.
# Krieket: Die snelboulers Kagiso Rabada en Anrich Nortjé se fiksheid sal tydens die Proteas se oefenkamp voor die toetsreeks van drie wedstryde teen Australië beoordeel word. Rabada keer terug nadat ‘n besering hom uit die eendagreeks gehou het, terwyl Nortjé die afgelope drie jaar met ernstige beserings gesukkel het. Albei is in die voorlopige toetsgroep ingesluit, maar afrigter Shukri Conrad sê hy is nog nie seker of Nortjé die harde werk van ‘n toetswedstryd sal kan hanteer nie. Die eerste wedstryd begin volgende Vrydag in Durban.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-557-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 99-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….