Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die graderingsagentskap Moody’s het Ekurhuleni se langtermyn-vooruitsig tot Caa2 afgegradeer, drie kerwe onder rommelstatus en ‘n aanduiding van ‘n baie hoë kredietrisiko. Die agentskap het ook die Stad Tshwane se langtermyn-vooruitsig van Caa1 op hersiening geplaas vir verdere afgradering.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die 34-jarige Freddie Stapelberg wat van die moord op Nadine Terblanche en haar 9-jarige seun Ruandré aangekla word, se borgtogaansoek is geweier omdat hy moontlik ‘n gevaar inhou vir homself en die gemeenskap.
Dan is daar nuus oor die Hoërskool Waterkloof se nuwe “personeellid” ‘n harige tarantula met die naam Mathilda.
En laastens is daar ‘n brokkie oor deelname aan die Aarde-uur-vieringe.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ouers het gekla oor die ontplooiing van polisiebeamptes in uniforms by skole aangesien dit die regte van die leerders na bewering aan bande lê.
En berig oor spaza-eienaars wat aangeval word sodat hul winkels gekaap kan word.
# En Sowetan:
Berig die inwoners van Bronkhorstspruit oos van Pretoria het gister betoog oor watervoorsiening aan die dorp. Hulle sê hulle het nou reeds vir drie maande nie water nie en ‘n ernstige gesondheidskrisis dreig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die DA en ANC het mekaar gister die stryd aangesê in die Mangaung-metroraad oor die onwettige grondbesetting langs die Jagersfontein-pad. Die groep grondbesetters het nou gegroei tot bykans drie-duisend.
En tweedens skryf die koerant oor die verdwyning van die 7-jarige Joslin Smith van Saldanha. Drie mans en drie vroue sal moontlik vandag in die hof verskyn.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die jongste verwikkelinge oor die Smith-verdwyning. Die koerant berig ‘n vroulike sangoma van Saldanha is glo die sleutel na waar Joslin Smith haar bevind.
Dan word berig sowat vyf-duisend-700 braaikuikens is dood weens hitte by die Drakenstein-tronk buite die Paarl. Die DBV stel ondersoek in.
En laastens is daar nuus oor ‘n Duitser wat reeds 217 keer teen Covid ingeënt is en geen newe-effekte toon nie.
# En Cape Times:
Skryf inmenging het moontlik die soektog na Joslin Smith vertraag.
En berig vandag is D-dag vir ANC-lede wat deur die Staatskapingskommissie betrek word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gaan die honderde Oos-Kaapse reserviste betaal wat opgeroep is vir die bekamping van die openbare geweld in KwaZulu-Natal drie jaar gelede. Nie een van die lede het egter ooit die basis verlaat nie.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai se Driftsands-depot is bestrooi met meubels en toerusting wat vergaan terwyl vierwielmotorfietse en jetski’s besig is om op te roes.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf miljarde rand word benodig om eThekwini se waterstelsel te herstel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n donker wolk hang oor Mariental weens die lae vlak van die Hardapdam wat tans slegs 13,6-persent vol is. Die versengende droogte plaas reeds veeproduksie onder druk.
En tweedens skryf die koerant die pastoor van House of Joy Ministries en veroordeelde wildstroper, Jackson Babi staar tans verdere aanklagte in die gesig wat verband hou met uitstaande huurgeld.