Nuus 06:00
BULLETIN 23 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig verskeie partye dat hulle doelbewus kandidate vir kiesers wegsteek
# Die vermiste Suid-Afrikaanse joernalis is uit aanhouding in Djiboeti vrygelaat en is veilig
# En rugby: Jasper Wiese speel sy 50ste toetswedstryd vir Suid-Afrika teen die Wallabies
# Die DA het ‘n dringende aansoek by die Verkiesingshof ingedien waarvolgens die EFF, ActionSA, die MK-party en die GOOD-party beskuldig word dat hulle doelbewus kandidate vir kiesers wegsteek. Die party beweer die partye verbuig die reëls deur die verkeerde vertolking van die wet. Die Verkiesingskommissie laat ‘n party toe om bykomende name na ‘n verkiesing in te dien. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, sê dit geld indien die party meer setels wen as wat daar kandidate op sy proporsionele verteenwoordigingslys is:
# Die Suid-Afrikaanse ondersoekende joernalis, Micah Reddy, wat deur die owerhede in Djiboeti aangehou is, is gister ongedeerd en sonder enige klag vrygelaat. Hy en sy plaaslike skakelpersoon, Kooki Mahmoud, wat ook vrygelaat is, het Saterdagmiddag uit hul hotel in dié Oos-Afrika-land verdwyn. Reddy is die Afrika-koördineerder van die Internasionale Konsortium van Ondersoekende Joernaliste. Niall Reddy het aan die SABC gesê die nasionale veiligheidsdienste het sy broer aangehou weens kwessies rondom media-akkreditasie:
# Die vakbond Solidariteit sê talle werknemers van die Mangaung-gevangenissentrum in die Vrystaat, wat op 1 Julie vir diens aangemeld het, wag steeds vir erkenning van hul indiensneming, asook vir gereelde betaling en voordele. Die vakbond het die Arbeidshof genader met ‘n dringende aansoek teen die Departement van Korrektiewe Dienste. Theunis van Staden van Solidariteit sê hulle vra vir die uitvoering van ‘n bestaande hofbevel oor die werkers se diensstatus.
# President Donald Trump sê hy staan voor ‘n groot besluit oor Iran: ‘n ooreenkoms of algehele vernietiging. Hy het gister die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies toegespreek, waar hy sy dank uitgespreek het teenoor die VN-Veiligheidsraad vir sy eenparige steun vir die VSA se 20-punt-vredesplan vir Gaza, en die amptelike goedkeuring van die Vredesraad. Trump sê hy glo ‘n ooreenkoms kan ná die Amerikaanse middeltermynverkiesing in November bereik word, en sê Teheran speel vir tyd:
# Rugby: Die agsteman Jasper Wiese speel Sondag sy 50ste toets vir Suid-Afrika nadat hy op die bank gekies is vir die kragmeting met die Wallabies in Perth. Die 30-jarige het sy buiging in 2021 gemaak. Die veelsydige senter André Esterhuizen voer die span aan in Siya Kolisi se afwesigheid en word die 68ste Springbok-kaptein. Afrigter Rassie Erasmus het slegs nege spelers behou in die groep wat die All Blacks in die laaste toets in Baltimore verslaan het om Rugby’s Greatest Rivalry te wen. Afskop is Sondagoggend kwart voor 12, Suid-Afrikaanse tyd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-237-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-362-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 99-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad sê vanjaar se Wêreld-koesisterdagkompetisie toon hoe plaaslike bestanddele op nuwe maniere gebruik kan word. Die Kaapstadse sjef Huwitt Strydom het die kompetisie by Makers Landing in die V&A Waterfront gewen deur Rooibos in die tradisionele Kaaps-Maleise koesister te gebruik. Rooibos was vanjaar se erfenisbestanddeel, ná spekboom verlede jaar. Adele du Toit van die raad sê die kombinasie van Rooibos met ‘n Kaaps-Maleise gunsteling vier Suid-Afrika se voedselerfenis, terwyl dit terselfdertyd ‘n vars kinkel aan tradisionele bestanddele gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….