Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Northam Platinum, Paul Dunne sê die myngroep sal sommige van sy ontwikkelingsprojekte tydelik staak of uitstel om sy kapitaal te beskerm. Dunne sê met die daling van pryse beleef die bedryf die slegste marktoestand in drie dekades.
GAUTENG:
# Beeld:
Het vandag ‘n rugby-voorblad wat fokus op die oorwinnings van die Bulle oor die Stormers met 40-22 en die Leeus oor die Haaie met 40-10.
# The Star en Pretoria News:
Skryf eerstens oor die herrie oor die 1,3-miljoen-rand wat die belastingbetaler moes opdok om die sogenaamde “super fans” by die Wêreldbeker in Frankryk te ondersteun.
En berig die EFF-leier, Julius Malema sê Gauteng het in duie gestort onder ANC-leierskap.
# Sowetan:
Berig Puseletso Zulu van Diepsloot het ter nouer nood aan die dood ontkom toe ‘n groep inwoners hom en ‘n vriend aangeval en valslik beskuldig het van diefstal. Mans wat hul voorgedoen het as misdaadpatrolleerders het hulle oorval en beweer die TV wat hulle gedra het is gesteel. Volgens Zulu was dit ‘n geskenk.
# En The Citizen:
Lei met: “ANC TO CHOP TOP CADRES?” Die koerant skryf die name van Zweli Mkhize en Zizi Kodwa is genoem nadat die integriteitskommissie hulle na bewering by staatskaping betrek het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die inwoners van Lourierpark in Bloemfontein is omgekrap nadat meer as ‘n duisend grondbesetters plakkershutte begin oprig het op grond teen die woonbuurt. Hoewel daar ‘n voorlopige hofbevel toegestaan is het die burgemeester van Mangaung, Gregory Nthatisi gesê die mense kan vir eers daar bly.
En tweedens skryf die koerant ‘n ouer van een van die leerders van die Hoër Meisieskool Oranje dreig met regstappe ná die aanstelling van Surita le Roux as netbalafrigter.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die polisie het bebloede klere en ander voorwerpe gevind in hul soektog na die vermiste sewejarige Joslin Smith. Dit word nou forensies getoets. Intussen word hommeltuie ingespan in die soektog.
En tweedens is daar nuus oor swaar reën en hael wat voorspel word vir die Kaapse Wynland en Overberg-distrik.
# En Cape Times:
Berig ook oor die polisie se soektog na Joslin en die stormvoorspelling vir die Wynland en Overberg.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die uitvoerende hoof van die Transnet Hawe-owerheid, Pepi Silinga is voorlopig geskors oor bewerings van wanbestuur en korrupsie.
En tweedens skryf die koerant bouwerk aan Suid-Afrika se grootste private hernubare-energie-aanleg, die Impofu-windplaas in Kouga sal die maand begin. Die projek sal 330 megawatt lewer en sowat nege-miljard-rand kos.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Siboniso Duma sê die hawebestuursprojek wat die ANC ingestel het is suksesvol en die opeenhoping van vragmotors in die Durbanse hawe is so te sê opgelos.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is meer as twee-duisend-700 onafgehandelde polisie-ondersoeke in die Khomasstreek. In vergelyking hiermee is daar landswyd in Namibië vier-duisend-377 sake wat nog nie afgehandel is nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n reusebedrag word benodig vir die 16-jarige Andro Blaauw van Grootfontein. Hy ly aan beenkanker en moet ’n lewensnoodsaaklike operasie in Kaapstad ondergaan.